Bokomo-brekfisbrief; 14/10/2010: Die vlug van 'n arend en die weë van Binnelandse Sake

  • 0

Tree ek by Binnelandse Sake, Centurion, aan, gewapen met ’n voltooide PDF-dokument wat ek van Binnelandse Sake se werf afgelaai het. Dis ’n ellelange tou van mhlungu’s, meeste gewapen met die kenmerkende geel en wit paspoort-aansoekvorms. Ek wil ’n afskrif van ’n dokument kry wat ’n ruk terug saam met ’n beursie van ons ge-liberate is.

Ek is vroegoggend daar, maar die kantoor maak laat oop, sonder enige verduideliking aan die tou wat nou al drie keer langer is as toe ek daar gekom het. Die antie by die deur vra vir my waar kry ek my PDF-dokument. Van julle eie webwerf af, antwoord ek trots. Nee, jammer, jy mag jou eie inisiatief gebruik nie. Dis die staatsdiens hierdie. Sy gee vir my ’n ander, identiese vel papier, wat ook ’n blote laser-drukstuk is van dieselfde PDF, presies nes myne. Ek gooi ’n mini-vloermoer en vra waarom hulle dan blanko vorms hoegenaamd op hul werf beskikbaar maak, en hoe presies my laser-drukstuk van die nuwe blanko een gaan verskil, maar sug uiteindelik en vul hom toe maar in toe ek sien dat ek skuldig bevind is daaraan dat ek nie die ding gedoen het soos sy geleer is dit moet gebeur nie. Salomo kon die weë van Binnelandse Sake ook by die vlug van ’n arend gevoeg het.

Staan nog en wag in die tou. Kom voor by die kassiere. “No, sorry, we are offline. We cannot print your document.” Ek neem aan die stelsel het omgeval of die netwerk is tydelik af en bied aan om te wag tot die ding weer aanlyn is. Maar nee, dié is Binnelandse Sake. Sy beduie na ’n leë lessenaar sonder ’n rekenaar om vir my te wys ek kan nie bloot net wag vir die netwerk om te re-boot nie.  “Your computer is gone”, wys ek op die opsigtelike.  “Ee-yees”, antwoord sy. Dan is julle streng-gesproke nie van lyn af nie, maar iemand het die rekenaar gaan verpand vir drankgeld of hy is ook, nes die beursie, ge-liberate, stribbel ek teë. Sulke irrelevante, tegniese detail, akkuraat al dan nie, maak egter geen indruk op Binnelandse Sake en sy amptenary nie.  So wanneer gaan die een wat die rekenaar verpand het, sy skuld vereffen en hom terugbring, vra ek. Sy trek haar skouers op. “Maybe Friday,” maar ek en sy weet albei dis allermins ’n gegewe. Ek bedank almal toe beleefd vir hulle uitnemende diens en lewer aangename kommentaar oor hulle pragtige décor. Of verbreed die ander slagoffers van Binnelandse Sake se woordeskat aansienlik. Kies een. Kon hulle my nie by die bliksemse deur gesê het ek mors my tyd nie?

Al vloekend ry ek middestad(t) toe. Ek weet wat ek daar gaan aantref. ’n Tou, meestal Zimbabwiërs, wat drie diep om ses blokke strek. Dit gaan ’n lang dag wees, besef ek. Ek loop boemelaars, metropolisie-lede en staatsamptenare uit die pad uit. Nie lus vir nog nonsens nie. Loop eers verby die ingang in Pretoriusstraat sonder om dit te herken, want daar is geen tou nie. Die man by ontvangs beduie my vriendelik na die kassiere toe. Ook geen tou nie. Een minuut later het ek ’n strokie. Ek loop na die Afrikaanse tannie toe by die ander toonbank. Sy gee vir my ook binne een minuut my dokument. Die hele besoek neem my drie minute.

Die les hieruit te leer? Dis maklik. Wat was by Centurion maar nie by Pretoriusstraat nie? Ja - dis daai ryk mhlungu’s wat kan bekostig om oorsee te gaan en onredelikerwys aandring op paspoorte se skuld dat Binnelandse Sake so ’n onverdiende reputasie vir swak dienslewering het.

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top