Bokomo-brekfisbrief; 14/10/09: Onbeantwoorde gebede

  • 0

Hulle (dis nooit jy, sy of hy nie) sê: "Wees versigtig waarvoor jy wens. Moenie begeer nie; moenie verwag nie." Tog is die verlange na iets of iemand, of ‘n plek of ervaring juis die gom wat die liggaam, gees en hart aanmekaar laat klou.

Ek wil nie, maar ek sou so graag wou die Weskus op en af deurtoer. Stop waar ookal die donker my pad oorval. Om regtig aan die slaap te mag raak met die natuur se lewendige geraas. Om ver ente pad met niks te sien, totdat ek werklik waar daardie wonderlike iets uit die niks kan raak sien en ervaar.

Ek sou so graag die Otter- en Visrivierroete wou stap. Om met elke asemteug dankbaarheid te getuig oor die skoonheid en die wonder van die natuur. Ek sou so graag in Kaapsche Hoop wou wakker word in vroeg lente en in die mistieke oomblik die miskombers in die vallei sien lig om plek te maak vir die groen moskombers teen die hange. Ek sou so graag op ‘n lang vakansie gaan wou gaan. Bly in ‘n houthuisie diep teen die berg met ‘n groen wilgerboom langs ‘n bergstroom. ‘n Kaggelvuur met ‘n regte egte verekombers en ‘n goeie paar boeke.

Ek sou so graag weer in die denneplantasie op ‘n volmaandaand geslaap het, met ‘n bed uit dennenaalde en die aandwind se wals tussen die hoogste takke sien dans. Die nagsê van die kwêvoël en die tortel-tortel van ‘n eensame duif. Ek sou so graag weer daardie vyf minute van totale enlightenment ervaar. Die opregte, eenvoudige en seer teen-die-been-gesnyde blote menswees-naby-aan-God ervaring.

Maar as ek dinge oor sou kon doen, sou ek graag weer op my Pa se skoot wou sit en na sy stories luister. Dan sou ek meer opgelet het toe ek Ouma help brood bak het, want haar resep werk net nie meer reg uit nie. Dan sou ek weer saam met Ma Wimpy-koffie wou drink en saam oor môre groot-meisie drome kon droom. Ek sou weer vir ‘n oomblik bloot kind kon wees met die wysheid van jare om te mag verstaan en te waardeer wat ek wel gehad het. Om in die onskuld van jare die geluk in ‘n skulpie te mag vind, die verwondering van die branders op die strand, die blink van elke sandkorrel, die blou van die verste berge en die groen van die naaste. Die kabbel van ‘n bergstroom tot die perfekte ronde spoelklippe. Die roep van ‘n visarend tot die sirkel-draaie van ‘n aasvoël.

Maar ek sou nie graag die seerkry en lesse-leer van menswees wou verruil nie, want dit is juis wat aan ons vorm gee om die bogenoemde so graag te wil ervaar en waardeer. Dit is juis so omdat ons nie almal dieselfde bid nie. Dieselfde dink nie. Dieselfde lyk nie. Dieselfde doen nie. Dit is juis seerkry en die vrees vir seerkry wat ons verhoed om almal dieselfde gebede te bid. Tot dan, moet ons soms dankbaar wees vir die onbeantwoorde gebede ook.

Groetnis,

Sue

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top