Ons het onlangs die pragtige dorpie, Swakopmund, in Namibië besoek. Bekend vir die wispelturige weer en mistigheid, het ons toe ook eerstehands daarmee kennis gemaak.
Party oggende breek die dag helder en windloos aan om dan skaars 'n uur later weg te sink in 'n digte mis, waar 'n mens skaars 'n paar meter voor jou kan sien. Later trek dit weer oop en word dit 'n heerlike dag. Die aande is koel en jy kan nog vanaand vuur maak en môre-oggend verswelg in die warm walms van die "oosweer", soos hulle dit daar noem. Dan waai die wind verwoed van die woestyn af en die lug is vol stof waarin klein blink feetjies ronddans. Glo my, niemand is dan beïndruk nie en as jy huis skoonmaak, vee jy 'n hele sandduin by die deur uit!
Op een so 'n mistige oggend, besluit manlief om alleen na die sg "Maanlandskap" te ry om foto's te neem. Dis 'n fantastiese plek in die Naukloof Nasionale Park en skaars 'n uur se ry van Swakop af. Dit is 'n diep slenkdal in die aarde met rotsformasies wat deur vulkaniese werking gevorm is. Dit lyk kompleet soos 'n heks se prutpot vol swart borrelende brousel, wat gestol het.
Later is manlief terug en belowe om ons later die dag ook soontoe te neem. Al wat ons uit hom kon kry, is dat hy vreeslik moeilik bestuur het agv die mis en dat die pad blêrrie sleg was. Die middag toe ons vol verwagting soontoe ry (mistigheid opgeklaar), is die pad soos 'n snelweg in Gauteng ... nie te goed nie, maar ook nie sleg nie. Die grondpaaie in Namibië is oor die algemeen in 'n uitstekende toestand.
Terwyl ons so ry en ek uitvra oor die danige slegte pad wat nie so sleg is nie, sien manlief 'n ry spore al langs die pad ... sy spore van die oggend! Hy het wragtag al die pad langs die pad gery! Dit wys jou wat kan gebeur as 'n mens deur die mis is!
Groetnis
Perdebytjie


