Bokomo-brekfisbrief; 14/09/08: Waar ek gebore is ...

  • 0
 

Melt,

Ek kan verkeerd wees, maar ek herinner my dat jy so 'n tyd gelede gewonder het waar al die verskillende SêNetters gebore is? Ek het nie veel reaksie opgemerk nie, maar dit kan wees dat ek dit net nie raakgelees het nie. Nietemin, ek wou daarop reageer en gebruik nou maar die geleentheid om gou te sê, terwyl ek wag dat die ketel kook.

Ek is destyds, toe die wêreld nog oop en leeg was en misdaad en moord 'n rariteit was, gebore. Die weer was daardie dae nog stabiel, die reën het geval waar dit wil en wanneer dit moet en soms ook nie, en die Kaap het nie sneeu en reën gekry in die somer nie. Op warm somersaande het ons met oop deure en vensters geslaap en soms op die oop stoep. Daar was nie tralies voor die vensters en deure nie. Daar was nog nie TV nie, ons ma's het in die middag Springbokradio-stories geluister en saans was daar ook 'n vervolgverhaal op die radio wat ons net na ete kon luister. Op Maandagaande was daar ook 'n komiese program, bekend as Bog met Blou Maandag, wat ek baie grappig gevind het en nooit gemis het nie. Ons het saans in die strate gespeel tot die straatligte aangaan, dan moes ons by die huis kom. Gewoonlik was ons hande en kaal bene en voete so vuil van die stof dat ma eers ons hande en voete moes was voordat ons by die etenstafel kon gaan aansit. Soms het pa ons hande en voete gewas, maar hy was meer hardhandig as ma, en dan het ons arms en bene so 'n pienk skynsel na die was gehad.

As ons kuiermense gekry het (wat gereeld gebeur het), dan moes ons vooraf gaan bad en skoon aantrek voordat die mense kom. Dan moes ons stilsit en wag, sodat ons nie weer vuil word voordat die kuiermense opgedaag het nie. Eers wanneer daar klaar gegroet is en die grootmense hulle eerste koffie en melktert in die hand het en elkeen lekker sy sit gekry het, is ons verskoon met 'n "Nou toe, wat soek julle in die grootmense se geselskap?" Dit was die teken dat ons kinders verskoon is en kon gaan speel. As die son ure later begin sak, het die kuiermense gewoonlik begin groet en is ons kinders weer laat roep om nader te staan. Dan het ons weer gelyk soos voor die skepping, by wyse van spreke. Ons was nat gesweet, vuil, moeg en honger. Maar dit was lekker.

Waar ek gebore is? O ja, ek is "ver in die ou Kalahari" gebore, om presies te wees, in Kuruman. My ouers het op Van Zyl's Rus gebly, waar my pa 'n polisie-konstabel was. Daar was egter nie 'n dokter of 'n hospitaal op Van Zyl's Rus nie en daarom moes my ma na Kuruman se hospitaal vir die geboorte. Dit was, soos ek later vertel was, 'n baie moeilike geboorte. My ma het op 'n stadium geboortestuipe gekry (seker toe sy my gesig gesien het?) en was amper dood. Nou vra mense my altyd: "Nou maar hoekom op Kuruman van alle plekke?" Dan antwoord ek altyd: "Dis seker maar omdat ek met die geboorte naby my ma wou gewees het?" Ek het later op Pofadder grootgeword en skoolgegaan. Maar dis weer 'n ander storie.

Dis die blond, dis die blou, dis al.

Blou Makou

(Pragtig, Blou Makou. Ek ken Van Zyl's Rus en Kuruman baie goed. - Melt Myburgh)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top