Jou brief oor nostalgiese beelde het eie herinneringe opgeroep. Ons het altyd ons Sondagoggend-badkamerritueel (sodat elkeen sy regmatige beurt kon kry) volgens die lui van die NG Kerk se klok bepaal. Die ander twee kerke se klokke was 5 minute laat en vals.
Die gemeente het besluit dat die stout en woelige kinders nie meer in die kerk en ook nie op die gallery mag sit nie, maar buite op die trappe (landing) na die gallery. Dit was, nodeloos om te sê, natuurlik ’n fout want dit is ook die trappe na die toring. Ons het een dag ’n besoekende dominee van Pretoria gekry. Dit was droog en hy het om reën kom bid. As daai stout kinders nie na 45 minute die klok begin lui het nie, het daardie dominee verseker vir die volgende 45 dae aaneen gebid, totdat die reën vanself gekom het!
Ek is hier in die ooste omring van kerke, maar het nog nooit een kerkklok hoor lui nie, behalwe die St Peters Seminary se klok wat soggens sesuur lui (dan is ek reeds baie, baie laat vir werk). Dié het ook nou stil geraak, want die grond is verkoop en hulle bou ’n massiewe aftreeoord.
Kerke en klokke het nog altyd vir mense ’n sekere heilige bekoring ingehou. Kyk wat het Die Oom in April 2006 op SêNet kwytgeraak. Dit blyk ook dat sommige mense nie teen die morele roepstem van die klok opgewasse is nie.
Die mooiste kerk vir my is steeds hierdie een (foto hieronder) wat hier nog in aanbou was. Die dorp is uiters vervalle en grillerig maar as mens voor die kerk staan, kom daar ’n anderste soort stilte oor jou, een wat baie diep strek.
Met die lang geskiedenis van klokke, is dit nie verbasend om te sien dat daar ’n kloklui-gilde bestaan nie. Ons Uniegebou se luivermoë is ook nie te versmaai nie.
So lui ek maar vir eers my storie af.
Groetnis
Sue


