As lojale en ook rojale ondersteuner van Oppikoppi, het ek my weereens Donderdag aangemeld vir diens. Diens in die sin dat ek voel Oppikoppi kan nie sonder my ondersteuning klaarkom nie. Dis ook nie elke Jan Rap en sy maat wat al 14 van hierdie feeste agter die rug het nie. Soos die gesegde lui: Oppikoppi is nie vir sissies nie. Sommige van hierdie jaar se feesgangers het nog aan ander melkkannetjies gesuig toe ek my eerste kreet teen Oppikoppi se koppie laat weergalm het. Vra vir Koos en Valiant.
Soos oom Boors, skepper en eienaar van Oppikoppi, die aand voor die fees aan ons gesê het: “Dit gaan kort maar vicious wees.” En dit was.
Vanaf Woensdag, alhoewel die fees eers Donderdag begin het, het die motors begin instroom. Alle uithoeke van Suid-Afrika, en selfs van ons buurstate was goed verteenwoordig. Of hulle afgevaardig was of somer net lus was vir ’n moerse makietie, is debatteerbaar. Bob Mugabe was nie daar nie, hy was nie genooi nie.
Donderdag was die groot stormloop en letterlik duisende het gearriveer, so ook Vrydag. Selfs ’n klompie studente van Stellenbosch, wie se motor in Rustenburg onklaar geraak het, het per duim en te voet gearriveer ... net met die klere aan hulle lywe. Oppikoppi-gangers het hulle egter met ware Oppikoppi-kameraderie ingeneem en Vrydagoggend moes ek hoor van hoe goed daar deur die nag na hulle gekyk is. ’n Paar girls het selfs hulle slaapsakke met die “arme” drommels gedeel.
Oor die musiek sal ek nie baie vertel nie. Koos Kombuis kan eerder, hy het Koos Doep gedoen en hét hy hom gedoen! Karin Zoid, ligter en maerder, het blykbaar ’n nuwe vonk ontdek wat haar na ou hoogtes teruggedryf het.
Uitsonderlik gewees. Valiant was my gunsteling, saam met Koos Kombuis, en Voëlvry se dae is behoorlik gevier, al was ek daardie jare in oom PW se mag. Dan ook Coke Cartel – wat sal ons van hulle skryf behalwe om te sê: “Bravo, Francois en manne, my kop dreun nou nog ... drie dae later.”
Dis egter die mense wat kom fees het wat my aandag gehou het. Steyn Borman en sy Portugese vriend met ma-se-sosaties, gebraai oor ’n vuur groter as Niek s’n, met die Portugees en Steyn wat mekaar om die beurt vashou om nie in ’n onvergenoegde staat die vuur in te donner nie. Die man wat in die boom gesit en rook het en óp daad die bynaam boomroker op die lyf geloop het. Net om daarna uit dieselfde boom sy moer los te val met sy vriend wat naarstig tussen die skare bewonderaars rondsoek na ’n ginekoloog om sy vriend te verpleeg. Die ou van Skotland wat sy uitmuntende tent, saamgebring uit Skotland, in sy dronkenskap met Skotse whisky besprinkel en aan die brand gesteek het – net om te wys die tent kan nie brand nie – wat hy wel gedoen het, totdat net as van die tent, sy klere en sy paspoort oor was. Die ou van Durban wat ’n “stage dive” gedoen het, ongelukkig was hy groter as ʼn normale mens en wou niemand hom vang nie, met feesgangers wat weer naarstiglik na ’n ginekoloog gesoek het na sy landing in Oppikoppie se rooi stof.
Daar was ook die rustiger oomblikke, soos die man wat in die middel van al die gehoer en rumoer met sy rug teen ’n boom, Virginia Wolf gesit en lees het. En die ou tannie, miskien sewentig indien nie ouer nie, wat gedink het sy is ’n skoenlapper en op elke jong kaalbolyfman se bors wou gaan sit het.
Sommige van hierdie jongmanne sal sielkundige behandeling vir die res van hulle lewens moet ontvang – die tannie was skreeulelik en vreeslik orig.
Vier dae van musiek en fees, vier dae van uitbreek en terugkeer na Neandertalmens, vier dae wat weer lank onthou sal word. Tienduisend nuwe vriende wie se name ek nie ken nie maar met die woord “Oppikoppi” weer sal onthou.
My plekkie onder ’n kameeldoringboom is klaar bespreek vir volgende jaar.
Swerwer


