Ai, hoe wens ek tog nie dat ek onderwysers soos Vega gehad het nie. Ek was nou nie ’n voorbok soos die bokram wat sy beskryf het nie, maar in my dae neem ek aan was die skoolstelsel baie anders as deesdae.
Ek het in ’n dubbelmedium, seuns-en-meisieskool my skoolloopbaan afgesluit. Ons was oor die eenduisend leerlinge en ek kan net met lof van “ons” skool praat. ’n Paar beroemde mense opgelewer, alhoewel dit ’n plattelandse skool was. Ek praat nou die ander dag met een van die buurvrouens wat ophou skoolhou het en sy verseg om weer naby ’n skool of kind te kom. Sy beweer dat die kinders haar uitgemergel en klaargemaak het.
Skool het my nogal verveel. Ek het maar deur die “motions” gegaan omdat my ma gesê het: “Jy sal jou baard vastrap, maar matriek sal jy maak.” Die buitemuurse aktiwiteite het my meer aangestaan as die akademie.
Ons het een jaar van my hoërskoolloopbaan ’n hoof gehad wat by ons kom “aflos” het. Dit was mnr Willie van Rooyen wat later jare direkteur van onderwys in Natal was. Hy het ’n kind geken en het geweet hoe om met seunskinders te werk. Ek was so: hoe harder en meer ek gemoer is, hoe meer het ek aangejaag. Ek moes nie by die huis gaan kla en kerm oor ’n pak slae nie, want dan het ek nog een gekry.
Hy en sy familie was bekend in die omgewing en het baie van die leerlinge se ouers en voorouers geken. Hy kon na jou kyk en dan die gevolgtrekking maak dat jy dié en daardie een se kind is, want jy lyk na dié en daardie persoon. Gewoonlik was hy reg, want in ons dorp was dit “telephone, telegraph, tele-woman and tele-family”.
Ek het ook ’n wiskunde-onderwyseres gehad wat nogal pittig was. Een Maandagoggend vra sy waar 'n betrokke seunskind is. Daar daal toe ’n stilte neer in die klas en die meisiekinders kyk vir mekaar. Ek is toe so onnosel en antwoord, nee, hoe sal ons nou weet, want sy meisie was ook nie in die registrasieklas nie.
Een van die snippe in die klas antwoord toe maar: “Nee, juffrou, die seun en die meisie is die naweek getroud.”
“Ja,” antwoord die onderwyseres, “dit gebeur as kinners met grootmense se goed speel."
Dit klink vir my of vandag se onderwysers maar hare oppie tanne moet hê.
Sterkte.
Reusedwerg


