Ek het vir 'n wyle teruggekom na SA om te kom kyk na persoonlike belange en om te stem. Watter interessante gewaarwording om weer die ou en nuwe emosies te ervaar, en dit te kontrasteer met die lewe in Suid-Amerika. Daai ouens in Argentinië is emosioneel op 'n vlak wat ons Suid-Afrikaners in 'n duisend jaar nie sal bereik nie. Hulle raak opgewonde oor klein dingetjies soos 'n styging in die prys van brood, en dan sal die inwoners van Buenos Aires byvoorbeeld die strate invaar en luidkeels betoog voor die Pienk Paleis.
Baie interessant is dat die betogings eers plaasvind na werk. Hulle doen eers mooi hulle dagtaak klaar en vaar dan die strate in. Maar daar is geen toyi-toyi nie, geen geweld nie, net 'n helse geraas en geskree. Dis nou die ouens wat teen die regering se besluit gekant is. Die ouens wat vir die regering is (gewoonlik in die minderheid), sal dan op 'n veilige afstand staan en skree: "Colonia no, Patricia si!" (Anargie nee, patriotisme ja!). Na die betoging is almal weer vriende en gaan hulle huis toe en hoop op 'n nuwe saak waaroor hulle kan gaan betoog. Buenos Aires se geliefkoosde tydverdryf.
In Chile is die mense nog op 'n fase tussen bang en ontspan oor die diktatoriale bewind van hulle president, maar hulle is meer soos ons en aanvaar regeringsbesluite meer gelate. In Brasilië is misdaad ongelooflik hoog, maar dit raak nie sommer die gewone burgers soos hier by ons nie, behalwe miskien in die "slums". Sao Paulo is natuurlik 'n riller met verkeer, en soms lyk die hele stad soos die N1 tussen Johannesburg en Pretoria in spitstyd. Een ongeluk kan die "Intercity Highway" sover as 200 km laat opdam. Dan gaan die ouens net werk toe om weer af te teken om huis toe te gaan.
Waar ons is in Uruguay, is die mense se grootste bekommernis oor hoe laat hulle môre moet opstaan, en die een moord van laas jaar is nog steeds van tyd tot tyd in die koerante. Die hele Suid-Amerika doen nie onderhoud op geboue aan die buitekant nie. Van buite af lyk alle verwaarloos. Ek het al bome bo-op geboue sien groei, en party plekke se geute lyk soos 'n tuin. Hulle karre wissel enige iets vanaf 'n 1920-model Ford tot by die nuutste en blinkste uit Duitsland, en enige iets tussenin. Ek skat die gemiddelde kar se modelle op iewers tussen 1960 en 1980. Daar ry nog Willis Jeeps rond met die oorspronklike Amerikaanse ster op soos uit die Tweede Wêreldoorlog, en oorspronklike Vespa en Lambretta scooters uit die sestigs.
Ek het natuurlik my naam redelik gat gemaak deur Europese Spaans in Suid-Amerika te probeer. Ek wou 'n hond koop vir die plaas, en sien in een of ander woordeboek die woord vir hond is puta. Volgende oggend is ek na die plaaslike dorpie toe en vra wyd en syd waar kan ek 'n puta kry.
"Donde puedo encontrar un puta?"
Almal het eers doodstil gebly, en dan histeries begin lag, en dan ontwykend geantwoord hulle sal my nie kan sê nie. Die hoteleienaar wat Engels kan praat, was my darem genadig en verduidelik toe 'n puta is 'n los vrou, en 'n hond is eintlik 'n perro. Wel, 'n hond het ek darem gekry, en gelukkig nie die los vrou nie.
Een ding wat ek wil sê, is dat Suid-Afrika se lewenstandaard geweldig hoog is, en vergelyk goed met Europa en Noord-Amerika (behalwe vir e-pos- en selfoonkommunikasie, natuurlik). Daar is selfs Suid-Amerika ons een voor.
Kom ons hoop dat Zuma wel 'n haas uit die hoed gaan trek en dat sy regering al die foute van Mbeki en sy bende gaan regmaak. Interessant vir ons, is dat Mbeki en Bush dieselfde tydperk aan bewind was - en ek wonder wie die minste deur die geskiedenis uitgewys sal word as die swakste president in die geskiedenis van albei lande?
Heinrich B Zaayman


