Bokomo-brekfisbrief; 14/04/2011: En daar lê hy nou ...

  • 0

Hierdie storie kon eintlik maar op enige van ons ou land se klein plekkies gebeur het. Oral kry jy mos hierdie besondere plaaslike karakters wat ’n groot invloed op hulle gemeenskap gehad het en so ’n man was Johannes Bok. Soos dit egter maar met almal van ons gaan, en sal gaan, hy kom op ’n oggend te sterwe en hy moet begrawe word en die's mos ’n groot gebeurtenis. Op die gehuggie was daar g’n predikant nie en hulle het op so ’n afstand beginne reël vir hulle predikant (wat eintlik maar nog in sy admissiejare was en hy het hulle met hulle dienste uitgehelp, maar die gemeenskap het hom al ge-“dominie” asof dit al werklikheid was).

Een van die boere in die omgewing bel dan ook namens die dorp se mense vir die man en sê vir hom dat hy Vrydag vir Oom Johannes sal moet kom môre met sy begrafnis, maar daar's ’n probleem. Die man het ander verpligtinge ook, maar hy beloof om ’n plan te probeer maak om betyds te wees. Hy vra dan toe ook vir die boer om vir Oom Hendrik Titus daar op die dorp raak te loop want hy's die ouderling van die gemeente en vir ingeval hy nie betyds opdaag nie [papwiele was mos eerder ’n gegewe as ’n uitsondering in doerie dae] moet hy homself voorberei om voor te vat by die begrafnis. Intussen is ook gereël dat die gat gegrawe word sodat die man net begrawe kan word as die mense daar kom.

Die “dominie” het geweet al is hy ook nie betyds die dag nie, sal dit nie te erg wees nie want dié mense moet mos ook nog eers hulle droefheid ook afhandel. Hulle maak mos so ’n skare bymekaar om met ’n gesingery die afgestorwene verder aan te help. Toe kry hy nie net een nie, maar twee pap wiele en toe hy by die begrafnis stilhou, toe sing hulle genadiglik nog steeds. Die mense is so in die ding in, hy sê toe vir Oom Hendrik hy moet maar voortgaan met die voorvat en dan sal hy hom net ter aarde bestel.

Nou staan die kis daar, so langs die oop graf en Hendrik lees vir hulle eers uit die Evangelies uit, doer na waar Pilatus na Christus verwys het en sê: "Waar is die mens?" Hy vat dit toe sommer as teks, maar hy loop draai dit toe sommer al met sy tweede sin om na: "Wat is die mens?"

So vat hy hom dramaties daar weg en hou sy boodskap rondom dié vraag, maar die vraag vorder naderhand na: "Wat is die mens tog?"

Hy gaan voort en sê: "Hier in die Kaokoveld was daar g’n man wat saam met Johannes Bok kon draad span nie. As ’n man nog dink die boonste draad staat darem al, dan is Johannes alreeds besig met die volgende, maar wat is die mens tog?"

"Hier onder in die Kaokoveld was daar nie een man wat saam met Johannes Bok kon pale dra nie. Het jy een paal teen ’n kop uitgedra, dan het Johannes al twee uitgedra, maar wat is die mens tog?"

"Hier in die Kaokoveld was daar nie ’n jongvrou waarmee Johannes Bok nie rivier toe gestap het nie, maar wat is die mens tog?"

Dan wys hy dramaties na die kis en sê: "En daar lê hy nou en kan sy gat nie roer nie!"

Namib

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top