Vanoggend het soos enige ander ene begin. Al moes ek agtuur my hond by die veearts hê vir ‘n operasie, het ek gedink ek sal dit nog maak om halfnege by my oefenklas te kom. Sê wie? Die hele dorp se gediertes is vanoggend siek en die tou staan by die deur uit. Plan B: vergeet maar die oefenklas ... het in elk geval genoeg oefening gehad toe ek my gewigtige dierasie (vyf-en-vyftig kilogram soliede vleis en spiere) eiehandig op my bakkie moes help. Ek gaan in elk geval vanaand ‘n watersak nodig hê om my seer rug te lawe!
Huis toe, stort gou om al die hondedampe af te was, spring in die kar en ry haarkapper toe. Op pad stop ek by ‘n robot wat soos gewoonlik nie werk nie en wag geduldig my rybeurt af. Die volgende oomblik peil ‘n motorfiets van vooraf en swenk uit om die motor wat moes ry, te vermy. Die fiets gly en die knaap trek deur die lug, terwyl die motorfiets sydelings op my afskuif. Gelukkig mis dit my ou motortjie en ek spring uit om die ou te help. Hy staan op, en probeer al die skroewe en moere, sy helm en goedjies wat oraloor geskiet het op te tel. Sy baadjie op sy skouer is flenters en ek dink hy sal vanaand baie lyfseer wees. Soos die geluk wil hê, het ek ‘n WIT soeitjie aan en dié is nou glad nie meer wit nie!
Ek ry verder en bevind my eensklaps op ‘n ashoop ... die skattige mislikepaliteitwerkers het besluit om die dorp te versier met heerlike geurige stukkies afvalkos en kleurvolle glasstukkies en plastieksakke. Ek beur deur die gemors en gaan al rittelend die haarkapper binne, waar hulle my niks sterkers as ‘n koppie koffie kan aanbied nie. Senuwees gekalmeer, haartjies netjies gesny en elkeen op sy plek, durf ek weer die ashoop aan.
Nou steek ek deur na ons buurdorp waar die enigste een van drie poskantore op die Oos-Rand is, waar ‘n mens motorlisensies kan hernu ... was alreeds laasweek voor dooimansdeur by die verkeersafdeling ... toe was dit glo ‘n “go slow” ... hel tog!
Ek beur deur die volgende ashoop en gebreekte glasstukke, kry die poskantoor en sug van verligting. Binnegekom, staan en sit daar al ‘n redelike tou. Elke transaksie neem ongeveer twintig minute na ‘n halfuur en na sowat ‘n uur kry ek plek op die eerste oop stoel. Teen dié tyd voel dit of my rug op drie plekke gebreek is. Natuurlik is daar net een dame wat die lisensies hanteer en om een of ander rede word dit duidelik dat ‘n mens net die eienaar van die motor se ID mag wys, anders géén lisensie. Al staan jy nou op jou kop en gil dat jy vir die staat nóg duisend rand wil gee (ek wou drie lisensies hernu ... man en kinders s’n) weier hulle.
Ek gil nie, sê ook niks nie, steek net my traangevulde oë agter my donkerbril weg en beur weer deur die ashoop huiswaarts.
Sal maar vanaand met ‘n warmwatersak gaan slaap vir die rugpyn!
‘n Hoogs gefrustreerde Perdebytjie
(Ons hou duimvas dis nie ‘n Wetterse Woensdag nie! Webvoet)


