Bokomo-brekfisbrief; 14/04/09: '94-verkiesing

  • 0

 

 

April 27, 1994, verkiesingsdag. Ons staan met geboë hoofde terwyl trane oor die wange stroom. Die radio het dit pas hard en duidelik uitgeskreeu: ANC - 62% van stemme getel. Die einde van 'n era het aangebreek, die nuwe het begin, sonder ons.

Nog nooit was soveel deur hul leiers weerloos gelaat nie, nog nooit het soveel soos ons bittere verwerping ervaar nie. Nie een van ons het gestem nie. Ons was nie deel van die nuwe Suid-Afrika nie, ons spore is met een handtekening deur FW de Klerk tot niet gemaak. Ons was die manne wat De Klerk, PW en Vorster vertrou het, net soos ons hulle vertrou het. Ons here en meesters.

Van die manne het hande gevat en probeer bid, totdat Andries uitgeroep het : ‘Genoeg!'

Andries, wie se broer in die eerste Swapo-aanval na 1 April 1989 heldhaftig sy swart soldate uit 'n hinderlaag gelei het, 'n heldedaad wat sy dood gekos het. Tereggestel terwyl hy op sy knieë gedwing was. Vir vryheid en reg. Vir PW en FW.

Nou moes ons stem, het dieselfde De Klerk gevra. Dié De Klerk wat 32 ontbind het sonder om hulle laaste militêre seremonie op Pomfret by te woon, dieselfde De Klerk wat nie een lid van die SAW of polisie bedank het vir lewens wat ter wille van húlle, die NP, se stryd opgeoffer is nie. Ons moes stem om die land vry te hou, stem vir 'n demokratiese regering. Ons mog nie toelaat dat die ANC 'n tweederde-meerderheid bekom nie, daarom moes elke blanke in Suid-Afrika gaan stem. Ons moes hom vertrou, het hy gevra. Weer.

Niemand het meer na hom geluister nie, niemand het hom meer vertrou nie. Geeneen van ons, die oorlewendes, het gaan stem nie. Die aand voor die verkiesing het ons saam gekuier, saam gehuil. Ons het hulle onthou wat nie meer daar was nie, hulle wat die hoogste tol betaal het vir vryheid en reg . Vir volk en vaderland.

Die dag ná die verkiesing het elkeen sy paadjie gegaan en elke jaar op 27 April herdenk ons ons makkers wat die hoogste prys betaal het. Geeneen van ons het nog ooit gestem nie en sal ook nie, nie voordat De Klerk en sy mede-ampsgenote in die destydse regering, erkenning verleen aan dié wat in die naam van die NP oorlog gevoer het en met hulle lewens, fisies en geestelik, daarvoor geboet het nie - swart en wit.

'n Óú Man

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top