Bokomo-brekfisbrief; 14/01/2011: Lykwaak

  • 0

My broer vertel my hy het op ’n tyd in Windhoek ’n bastervrou as sekretaresse gehad. Ja, hulle wil so op hul ras genoem word. Sy het baie dikwels met ’n blou oog of snywond by die werk opgedaag, want haar man, asook haar broer, was groot drinkers en molesmakers en dan moes hul vroue dit ontgeld.

Haar pa was bitter ongelukkig met die toedrag van sake. Hy wou die vroueslaners straf, en maak toe ’n plan.

Op ’n dag kom sê Beverley haar pa is oorlede en sy moet help met die lykwaak. Na ’n week is die pa nog nie begrawe nie, en na twee weke waak hulle steeds, en sy vra nog ’n week verlof.

Die storie kom toe uit dat haar pa in sy doodsbrief, wat bykomend tot die testament is en amper meer gewig dra, geskryf het dat hy nie begrawe kon word voordat genoemde twee swaers die groot doringboom in die agterplaas eiehandig met byle afgekap het nie, en dit sonder versterkings.

Nou, enige Suidwester sal vir jou sê dat om ’n doringboom af te kap nie in elke man se broek sit nie. En so word die twee deur die familie aangejaag en onder druk geplaas, want almal se lewens het tot ’n halt gekom; die begrafnis moes klaarkry dat die lewe kon aangaan. En hulle kap en kap, en hulle kan dit nie waag om ’n ietsie te vat vir die groot dors nie.

Uiteindelik was die taak voltooi. Op die dag van die ter aarde lê was daar darem twéé nugter roubeklaers. Gewaarborg.

Mooi nuwejaar aan almal.

Gerrida

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top