Ek het die afgelope vakansie die pad gevat en in totaal meer as 5 000 kilometer deur Botswana, Namibië en Suid-Afrika gereis. Dit was 'n absolute voorreg om die skoonheid en rustigheid van ons twee buurlande te ervaar.
My reis het afgeskop in Johannesburg en ek het Swakopmund, my eindbestemming vir die eerste been van my vakansie, via Botswana bereik. Wat opvallend is van die roete is dat daar geen noemenswaardige nedersettings op die Transkalahari-snelweg bestaan nie. Slegs Windhoek en Swakopmund kan in 'n geringe mate vergelyk met die bedrywighede wat in Suid-Afrikaanse dorpe en stede plaasvind.
Ek gaan nogal baie na Swakop vir vakansie, maar dit was die eerste keer in byna 15 jaar dat ek soontoe gery het. Swakopmund het baie uitgebrei die laaste paar jare, maar die netheid en energie wat in die Namibiese kusdorp bestaan is steeds uitsonderlik.
Behalwe vir die wye verskeidenheid buitemuurse aktiwiteite wat die dorpie bied, kan mens nog die sentrale sake-gebied besoek en vir ure tussen die oulike winkeltjies ronddwaal en allerlei aardighede aankoop. Dan is daar ook die talle restaurante soos the Tug, The Lighthouse en die Tiger Reef kroeg wat basies op die strande is. Mens kan vir ure daar kuier terwyl jy die pragtige strand bykans reg langs jou kan dophou. Alhoewel sommige items effe duurder is as in Suid-Afrika, kan mens steeds 'n wye verskeidenheid produkte in die hande kry. Hierdie dorpsatmosfeer het my sterk herinner aan my jeugjare toe ons op Saterdagoggende ons beste Sondagklere aangetrek het en die besigheidsdistrik in my geboortedorp besoek het.
So het my eerste vakansie tot 'n einde gekom en moes ek binne twee dae my tweede eindbestemming, Scottburgh, aan die Natalse Suidkus bereik. Die bykans 2 400 km per pad was rof, maar baie goed vir my siel. In Botswana het ek meer beeste en donkies gesien as motors en mense tesame. Die natuurskoon is asemrowend en die gevoel van isolasie is onbeskryflik. Na sowat tien dae buite Suid-Afrika het ek skielik 'n rustigheid oor my gekry wat ek jare laas ervaar het.
Soos wat ek die grens tussen Botswana en Suid-Afrika oorsteek, voel my geboorteland skielik anders. In teenstelling met wat ek die afgelope dae beleef het, is Suid-Afrika 'n miernes van bedrywighede. Kinders hardloop oor die paaie en motorvoertuie is orals te siene. Ek stop by die eerste groot dorp Zeerust, om petrol in te gooi. Skielik voel dit asof ek in 'n stad is. Karre staan toue en mense toet en vloek op mekaar. 'n Aaklige inkopiesentrum, alias "Shopping Mall" val my op. Die toue by die garage is so lank dat ek maar besluit om aan te ry na Rustenburg.
Rustenburg tref my swaar. Die verkeer is onmenslik en skielik voel dit asof ek 'n enorme stad betree. Karre staan in toue om by die een of ander nuwe "Shopping Mall" in te draai. Na ek die kar volgemaak het, volg ek die Magaliesburg pad tot in Johanneburg. Die hele roete word skielik hel op aarde. Daar is snuistery stalletjies om elke hoek en draai, en 4x4's, gekrokte taxi's en busse jaag die duiwel uit die reeds oorvol pad uit.
Ek oornag in Johannesburg en vertrek vroegoggend na die Suidkus. Ek moes 'n draai in Ladysmith maak. Ek was opsoek na 'n paar goedere in die eens klein landelike dorpie toe 'n "Shopping Mall" my alweer begroet. 'n Enorme Pick 'n Pay met 'n Mr Price en 'n paar banke inkluis. In Ladysmith I ask you! Die SSG is verlate.
In Pietermaritzburg wil een van my passasiers dringend piepie. Ek neem die eerste beste afrit en 'n massiewe Mega Mall begroet my. Daar is byna geen parkering nie en derduisende mense maal rond soos rysmiere na die reën. Teen die tyd wat ons deur die massas gestrompel het en die toilet ontdek, was dit al byna te laat om in privaatheid water af te slaan.
Die volgende Mall op die roete is natuurlik die welbekende Pavillion. Dan vat mens die N2 suid op pad na Scottburgh. 'n Paar minute later begroet die nuwe Mall in Amanzimtoti my. Mega Mall inderdaad. Splinternuut, lelik en ver van die strand af. Ek is seker dat die strandfront doodgedruk is deur die nuwe besighede wat in hierdie mega Mall opgerig is.
Gelukkig kom ons uiteindelik in Scottburgh. Die volgende dag wil ons bietjie gaan shop en iets op die strand eet. Ek was jare laas in die dorp en onthou 'n pragtige lewendige dorp met baie om te doen. Ek word egter begroet deur 'n verlate en vervalle strandfront en SSG, met weinig om te doen. Alles is vaal en lelik. Daar is een of twee vuilerige restaurante op die strand en verder is daar fokkol.
So vind ek op die derde dag uit van die nuwe mall in Scottburgh. Sowat drie kilometer in die binneland. 'n Toegeboude mall, wat geensins inpas by die natuurskoon van die Suidkus nie. 'n Spur en 'n Ocean Basket sonder 'n seaview (eintlik enige view) is darem nou nie die plek waar mens op vakansie wil kuier nie.
Wat is dit tog met ons land en sy Malls. Het ons heeltemal ons verbeelding verloor? Hoe kan ons weer ons natuurskoon en wonderlike weer begin waardeer as ons alles toebou met vervelige winkels wat identies dieselfde in elke liewe klein dorpie is.
Gits, hierdie Molnasie van ons darem maar .... !
Groete,
FB


