Bokomo-brekfisbrief; 13/12/08: Die klarinetspeler in die Linder-ouditorium

  • 0

 

 

Net soos Cornelius hou ons ook daarvan om die simfoniekonserte in die Linder by te woon. Ons het ons kinders toe hulle kleiner was, saamgeneem om hulle bloot te stel aan alle soorte musiek. Dit was verpligtend vir ons kinders om ten minste twee jaar musieklesse (blokfluit en klavier) te neem sodat hulle ten minste ʼn basiese kennis kon ontwikkel en toe mag hulle besluit of hulle wou aangaan en watter instrument hulle verkies. Die Kersfeesprogram van Richard Cock is altyd vir my ʼn hoogtepunt en as hy enigsins betrokke is by ʼn aanbieding, hou ek daarvan om te gaan, want hy is een van my favourite mense.

Die probleem is dat ek gewoonlik uitstel om te bespreek en dan is die beste sitplekke vol en moet ons maar tevrede wees met tweede beste. So gebeur dit toe dat ek vir my en manlief en goeie vriende van ons bespreek vir ʼn konsert waar ʼn oorsese klarinetspeler die solis sou wees.

Ons sitplekke is in die heel voorste ry. Dis seker oukei, dink ek by myself, ons het nog nooit so mooi kon sien by enige konsert nie. Die orkeslede het hul plekke ingeneem en begin speel. Dis fassinerend. Ons is so naby ons kan die vioolspelers se hare op hulle hande sien, tot die haakspeldjie waarmee die een tjellospeler haar bloesie vasgesteek het.

Die konsentrasie en spanning van die spelers is amper voelbaar, ons sien die fronse en sweet en ervaar die orkes as individue in stede van ʼn geheel. Die dirigent was ʼn fenomenale kunstenaar. Hy was so naby, ek kon aan sy manel raak. ʼn Heel nuwe perspektief op ʼn simfonieorkes.

Toe die klarinetspeler vorentoe tree, staan hy reg bo ons. En hy begin speel. Laat ek net byvoeg, hy was ʼn kort potsierlike mannetjie met ʼn effense bles. Maar klarinetspeler uit die boonste rakke. Hy kan sy asem ophou vir langer as ʼn wêreldgehalte swemmer. Hy asem in en dan blaas hy, maar soos hy blaas, begin die wangetjies bol, hy raak rooi in die gesig en die sweet slaan op sy voorkop uit. Wanneer hy opkom vir lug, trek hy sy longe so vol dat ek benoud wonder of sy baadjieknoop gaan afpop. Dan blaas hy weer.

Ek het my so ingeleef in die gebeure dat ek onwillekeurig begin bekommer het dat die ou ʼn aar in sy kop gaan bars. Toe begin ek saam met hom asemhaal. Met die inasem sak ek af in die stoel en as hy uitblaas, dan kom ek ook op vir ʼn bietjie lug. Intussen bid ek net dat ek en die klarinetspeler die aand gaan oorleef. My man en ons vriende duck net vir die sweet wat spat van die verhoog af.

Van die musiek kan ek nie veel onthou nie, dit was te stresvol.

Ek het my les geleer; as ek Linder toe wil gaan, bespreek ek vroegtydig, of ek maak seker die soliste is ʼn klavierspeler of ʼn violis. Dis baie beter vir my eie gesondheid.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top