Ek het die aand 'n vuurtjie teen my een grensdraad opgemerk, en het soontoe gestap om te gaan ondersoek instel na die oorsaak. Daar vind ek toe vir Pancho, 'n ou cowboy wat los werkies doen op die plase in die omgewing. Hy sit langs sy perd wat op die grond lê, en aan sy anderkant sit sy hond styf teen hom.
Pancho het trane in sy oë, en die perd wat op sy sy lê, laat my onmiddellik onraad vermoed. Toe ek hom vrae wat fout is, staan die ou swaar op en wys waar sy perd in 'n gat getrap het, en nou is die voorbeen gebreek. Af net bo die knieg. Die ou man het trane in sy oë.
Pancho is 'n instelling in die omgewing. Niemand weet hoe oud hy en sy perd is nie, maar albei is al grys, stadig en sukkel om te loop. Pancho se twee bene is krom van al die perdry, en mens kan sien dat hy ongemaklik is as daar nie 'n perd tussen daardie twee krom bene is nie. Maar nou is die ou ook al deurtrek van die rumatiek.
Ek hoor die ou perd saggies runnik toe sy baas weer langs hom gaan sit, en ek sien hoe die ou man liefderik oor die perd se kop streel. Die af been staan skeef, en dit is duidelik dat die dier baie pyn het.
Ek praat saggies met Pancho en sê dat dit beter sal wees om die dier uit sy leiding te verlos. Hy maak sy oë styf toe en knik stadig sy kop. Omdat my gewere nog nie deur doeane geklaar is nie, bel ek vir Klaus my Duitse buurman. Na 'n halfuur, kom Klaus aan en klim uit die bakkie met sy geweer in die hand.
Ek help vir Pancho op en lei hom 'n ent weg. Terwyl Klaus na die perd stap, lê die ou man sy kop teen my skouer en huil saggies. Wat ek verstaan van wat hy sê, is dat hulle twee al onafskeidbaar is vir agttien jaar. Ek hou die ou cowboy aan sy skouers vas.
Toe die skoot knal, krimp hy ineen, draai om en gaan lê oor sy perd terwyl hy in Spaans in 'n ode van lofsang van die dier afskeid neem. Ek en Klaus staan altwee en snuif en vee trane van medelye af.
Daardie aand slaap Pancho by ons, en ek neem hom die volgende dag met die bakkie na sy klein huise aan die buitewyke van sy dorp. Hy is doodstil. Toe ek hom vra, wat hy nou gaan doen ('n cowboy sonder 'n perd is nutteloos) trek hy net sy skouers moedeloos op.
Daardie middag besluit ek en Klaus om vir Pancho 'n perd te koop. Ons ry die volgende dag om met hom te gaan praat, sodat hy saam met ons 'n perd kan gaan uitsoek. Toe ons by sy huisie kom, sit sy hond buite die toe deur, en tjank. Kort-kort krap hy teen die deur om te probeer ingaan. Dit is inderdaad vreemd. Na ons geklop het, en geen antwoord kry nie, maak Klaus die deur oop, en ek hoor hom sê: "Mein Gott!"
Pancho het homself opgehang in sy huis. Die lewe het vir hom net te veel geword. Hy het geen familie gehad nie, en sonder sy perd kon hy nie 'n toekoms sien nie. Ek het gevoel asof ek my broer verloor het, alhoewel ek hom nie eintlik geken het nie. Een van die goeie, onskadelike mense van hierdie gemeenskap was weg, en ek dink dit moet vreeslik wees om so alleen te wees, so alleen in wanhoop te sterf.
Sy hond sukkel om aan te pas by ons, hy sit meeste van die tyd en hou die pad dop, of hy gaan sit waar die perd begrawe is. Hy verlang, soos ons ook na ons geliefdes.
Heinrich B Zaayman


