Bokomo-brekfisbrief; 13/10/2010: Neil Diamond, Pieter

  • 0

Sit en terugdink aan die eerste keer wat ek met die Meester kennis gemaak het. “Hot August Night” was nog ver in die toekoms en mnr Diamond se songs is nog net hier en daar gespeel. Dit was doer in Springs toe my twee nefies tragies doodgebrand het. En almal hartseer was. En my antie oral op die radiostasies gesoek het vir iets van Neil Diamond. Ek onthou daar was op 'n stadium drie radios aan, elk op 'n verskillende stasie. En niemand speel mnr Diamond se goed nie. Tot iemand vir wie Ra Mavenster geken het wat betrokke is in die musiekindustrie een of ander stasie gebel het met 'n groot versoek. En mnr Diamond oor die eter sy ding gedoen het. Ek het geen idee wat die song was nie, maar ek onthou my antie waar sy op haar maag voor die ou draadloos gelê het en die trane wat vrylik gevloei het. Dalk was dit oor Pietertjie en Basie, dalk was dit net die song, ek weet nie en sal heel waarskynlik nooit weet nie. 

En so het die jare verbygegaan en die musiek in mens en om mens het gegroei en soms net weggeraak. Jy het geleer om kop te stamp met ACDC of met Doro of met Metallica en so het jy die groot meesters een vir een ontdek, waardeer, die plate gekoop en hulle nooit gespeel nie. Want dit was "imports" wat jy met lang weke se spaar by Hillbrow records loop koop het. Soms trein gery tot by Jo'burg-stasie, soms was daar genoeg geld om vir iemand petrol in te gooi. Jy het dit net uitgehaal en gewys en dan die "tape" ingesit en by "garageparties" close gedans op Neil Diamond. Want mens stamp nie kop by 'n "garageparty" nie. Jy gaan om 'n meisie te druk en te ontdek.

Ek onthou in Arcadia toe die wet verander het en die platebiblioteke moes toemaak hoe ons die goed loop opkoop het. Een rand per langspeler. Hoe ek weereens kennis gemaak het met nuwe meesters bloot omdat hul werke goedkoop was omdat niemand die goed wou koop nie en die plek moes ontslae raak daarvan. 

En tussen dit alles was mnr Diamond tog maar deel van als. Sit en luister na "I am, I said" en ek sit verdwaas hoe mense 'n namaaksel kan koop en durf waag om te beweer dat ons eie "Ikoon" dit "net so goed" kan doen. Ek onthou die oggend vieruur na 'n tragiese afsê met 'n skone tweebeenwonder waar ek die eerste keer The Jazz Singer gesien het. Wat was daardie deurnag "diner" oorkant Sterland se naam nou weer? Was dit "Midnight Grill"? Ek onthou daardie spesifieke The Jazz Singer in 'n waas van drank en rook en walms en het myself so tussen die episodes deur belowe om dit weer te kyk. 

As ek nie die eerste plek bespreek het nie, is ek redelik seker dat ek onder die eerste honderd was. Heel voor. Soos destyds met ander meesters se shows. Want al is ons nie meer groupies of jonk nie kan mens jouself tog verbeel dat jy is. Soos iemand destyds al gesê het: "Jy kry twee soorte van mense: die wat van Diamond hou en die wat nie van hom hou nie." 

Smaak my ek gaan 'n hele paar SêNetters in Kaapstad ontmoet daardie aand. Kyk uit vir die malste donner in die skare, hehe ... Want mens kry nie aldag so 'n kans nie. 

Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top