Bokomo-brekfisbrief; 13/08/09: Die blou matrassie

  • 0

Joan Hambidge skryf oor vergewe en vergeet, en onwillekeurig dwaal my gedagtes terug na die simpelste episode in my lewe, wat soos ’n versteende puisie botweg weier om my met rus te laat.

Eendag lank, lank, gelede het ek en my meisie twee vriende gehad, ons noem hulle sommer “Skat” en “Liefie”. Die vriendskap was bietjie ingewikkeld in die sin dat “Skat” en my meisie 19 jaar lank in ’n verhouding was. Volgens Skat was my meisie die laaste 10 jaar van hulle verhouding net ’n dierbare vriendin, en daarom het die vriendskap na die breuk voortgegaan. Dit het my nie gepla nie, tot die dag van die groot baklei. Die baklei het my ook nie gepla nie, want so nou en dan moet mens jou verskille uitsorteer, net sodat elkeen weet waar die lyne getrek moet word. Na ’n baklei neem almal ’n blaaskansie en dan vergewe almal mekaar en versoening vind plaas. Maar die belangrikste van onmin en baklei is dat al die partye regverdig moet wees teenoor mekaar, en ter wille van versoening en vergifnis, mag geen lae houe uitgedeel word nie.

Waaroor die stront die “fan” getref het, is glad nie belangrik nie, maar wat wel saak maak, is dat Skat ontkant was. Skat het ’n matrassie by ons geleen - ’n simpel opblaasmatras wat vandag seker net R250,00 sou kos, en waarvan ek daardie tyd seker 200 kon koop. Nietemin, na ’n hele paar SMS’e en ’n versoek om net asseblief die opblaasmatras terug te besorg, was Skat se laaste woorde “geen verdere SMS’se sal van julle ontvang word nie, en die opblaasmatrassie bly.”

Drie dae later was ek nog kwater as ooit. Ek is nie meer sestien nie, inteendeel seker drie keer so oud, maar ek is vies oor ’n opblaasmatras. Ek het my gevoel geregverdig deur te redeneer dat, ongeag waaroor mense redekawel, as jy iets geleen het, gee jy dit terug. Dit is nie joune nie. Om ’n geleende item na ’n twis te wil behou, is ’n ongesonde, arrogante houding. Dit maak van jou ’n leuenaar en is so goed soos diefstal.

So besluit ek die regte ding om te doen, is om ’n saak van diefstal by die polisie te open. My redenasie was, dat aangesien Skat reeds ’n keer “met haar lang vingers in die koekieblik” betrap is, sal sy weer oor die matrassie nadink en dit liewer terugbesorg. Dan kan die saak teruggetrek word en ons kan mekaar vergewe en … nee, beslis nie versoen nie. Eers skakel ek toe my kollega vir ’n bietjie regskennis. My stem was nog dik van ontsteltenis oor die blou matrassie en ek vertel vir hom die storie, maar dit is moeilik, want ek voel soos ’n volslae gek, om so ’n bohaai te maak, oor wat? Maar dit is hoe ek voel!

Deon het aandagtig na die hele storie geluister, en my voete onder my uitgeslaan met sy objektiewe, empatiese, sensitiewe, onpartydige “steetwise” opsomming. “Waaraan jy eerste moet dink”, was sy woorde, “is wanneer jy ’n saak van diefstal by die polisie aanhangig maak en jy besluit om dit na ’n dag of wat terug te trek, kan daar een van twee dinge gebeur. Die beampte wat jou saak neem, kan besluit om die saak terug te trek en alles is ‘vergewe’. Of die beampte het inspirasie nodig, en voel om die een of ander rede die dag vreeslik ambisieus, en weier om die saak terug te trek. Wat dan? Dan sal jy voor ’n regter moet staan en verduidelik waarom jy die polisie en die staat se tyd en, belangrikste, die belastingbetalers se geld, oor iets so onbenullig soos ’n blou matrassie mors.” En so maak Deon toe vinnig ’n einde aan my slim idee.

“Let it go, just let it go,” sê hy toe so saggies vir my dat ek moes hard moes sluk aan die trane wat nie wou binne bly nie ... oor ’n blou opblaasmatrassie. “Verder,” sê hy vir my, “om beter te voel en te vergeet, moet jy kan vergewe. Maar om te vergewe, beteken nie jy hoef more weer saam te braai of ‘movies’ toe te gaan nie. Dit is nie nodig om soos ’n ‘goodie two shoes’ met ’n Bybel onder die arm te wees, en altyd reg te wees sodat die ander wang ook geklap word nie, want mense wat klap, sal altyd klap.”

Die blou matrassie (verskoning) sal ons nooit sien nie, en as ek Joan aanhaal: “Ek gee absolusie aan jou, maar dit beteken nie jy mag my privaatheid binnedring of my as ’n vriend beskou nie,” voel ek stukke beter.

Dankie

SM

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top