
Hulle sê elke hond het sy baas en elke mens het sy baas. Of hond, as jy wil.
Hierdie Foxie het net een baas gehad en daai baas lê hier bo op die koppie en rus. Mavenster. Nou kyk, as daar ooit so iets was soos 'n skaduwee wat mens volg dat is hierdie viervoetige vriend daai skaduwee gewees. Want Mavenster konnie beweeg het of Basjan was by nie. Ek het al lank gewonder of honne treur soos ons doen en ek sal dalk vir ewig wonder.
Weird hoe honne soms is, nè? Die dag toe ons die Ou man loop wegbêre het in sy geliefde Brak toe neig ons om hierdie Foxie saam te vat, maar toe gee ou Basjan net 'n luide snork en loop soek lêplek. Wat hy toe om een of ander rede net nie kon kry nie.
En toe beduie iemand later: "Gee vir Balsak (ons noem hom nou maar so) Mavenster se flenter trui en stoel, dan sal hy rustig raak." En so gooi ons met groot seremonie die trui oop op die stoel wat met ewe groot seremonie uitgebring is en ewe skielik is hierdie viervoet vrind van ons weer rustig. Ons het al daai ou Lazyboy probeer skuif maar Basjan verseg. Wonder of ons die stoel met hom eendag moet begrawe?
Nou staan die ou stoel maar hier op die stoep en Basjan is tevrede. Voor die stoel neergesit is was ou Balsak onrustig en wou net heeltyd loop puntjie natmaak en loop gras merk. Heeldag weggebly en laataand by die hek gesit en tjank vir iemand om oop te maak. Na die stoel is dit asof die ou net loop patrolleer of iemand op sy turf was en dan pie hy 'n vinnige straaltjie om te wys hy is noggie weg nie en dan kom lê hy weer op sy meester se stoel. En die donner haal jou as jy naby daai Lazyboy waag!
En toe wonder ekke oor hierdie onsigbare verbintenis met ons viervoetige vriende? Wat maak dat mens so ver sal gaan om hul heil en voorspoed te verseker? Ek het 'n vae spesmaas dat die dag as Basjan die tydige met die ewige verwissel ons steeds die stoel sal los op sy plek hier in die hoek op my stoep. Want dit hoort so.
oester


