Soms moet 'n mens maar eenkant loop sit as jy oor dinge wonder. En daardie plek hang mos maar af van die spesifieke situasie. Soms vat jy die pad noordwaarts en ry die Karoo in. 'n Verpligte stopplek is altyd die Beervleidam kort voor die Groot ene sy geel gevreet wys. En jy stap die rondings en luister vir geluide doer onder waar die stukkie groen wys. En jy sit op die naakte beton en dan wonder jy oor dinge.
Aan die ander kant van die dag moet jy weer deur einste Karoo ry. Ek verkies altyd die son so aan my regterhand, en Koos of Meatloaf of Enya of PF of enige regte musiek. En jy stop sommer waar jy 'n boom kry en jy maak vir Koos of heer Brood stil en jy kyk hoe die Groot ene totsiens sê. Dan wens jy dat jy iemand gehad het met wie jy dit kan deel en tog wens jy dit ook nie. Want woorde sal in die pad kom.
As daar komplekse dinkwerk nodig is, los jy jou kar by Glentana en jy stap tot by die "Docks" en jy maak jouself gemaklik op een van haar wrakstukke. As jy mooi kyk en baie gelukkig is sal jy 'n Watermeid gewaar.
Of jy vat die pad teen Danald se hoogte uit en jy soek die bord wat sê Leeukloof. En met die kronkelpad ry jy tot jy niks anders as die rivier hoor nie. En dan proe jy aan daardie soet water wat nie rus beloof nie maar wat net op 'n skoon manier jou dors les. Ouma het mos hoeka altyd beduie dat water skoon is as hy oor sewe klippe geloop het. Ek vermoed sy't tog geweet waarvan sy praat, al maak die wiskunde nie mooi sin nie.
Soms, as die gier daar is, moet jy mos maar pad vat daar waar die ligte blink en die belofte van groot rykdom wegbly. Nee, daar kan jy nie dink nie, noudat ek weer dink. Daar vat hulle jou geld.
As jy gelukkig genoeg is, kan jy soos 'n kind van ouds anderkant Kanye in die suiwer skoon sand loop rondrol en regopsit en wag vir die Groot geel ene voor jy jou afstof.
Sentosa! Daar kan jy lank en rustig stil wees as die oopbek- toeriste jou nie crowd nie. So met jou voete in die kleine brandertjies kan jy tog probeer sin maak.
MacMac! Eisj, heuningpotplek! Daar waar jy doelbewus verbyry want die herinneringe is nie lekker nie.
Ponti Towers (ja, ja, ja, ja, ek weet daar is net een toring!). Vandag roep hulle dit anders. Die een of ander borg se naam is nou wat Ponti eens op 'n tyd was. Toe jy nog tot heel bo kon opry en daar van die lysie af jou ding kon doen om te sien hoe die mense reageer as jou stront hulle tref. Nee, ek's nie trots op my jeugdige wandade nie. En tog, daar kon ons op die lysie sit en wonder oor hoe dit sal wees as ons regeer.
Solder (Taaibos). Laaste kamer. In daardie venster is lang Menthols (en familie van Menthols) gerook en groot probleme opgelos.
Maleoskop. Daar kort duskant die radiotoring. Waar PW en die politici finaal gesneuwel en ek, ironies genoeg, ek met spesiale vergunning iemand gevra het om saam met my te wees tot die dood of omstandighede ons skei. Tembisa. Katlehong. Daveyton. Waterkloof. Pretoria-Wes. Pietersburg. En Blouberg wat in daardie stadium geen betekenis gehad het nie. Lobatse. Gabarone. Maseru. Lusaka. Beitbrug. Zeerust. Vaalwater. En fokken Soweto. Harare se ma se bloed moer ook. Boipatong klink alte veel na 'n spul stakers, en ek wens dit was. Herre, hoekom kom die name wat 'n mens wegwens, so gedurig op?
Die name en plekke raak te veel om op te noem. En hulle hou nie op met spook nie. Hulle is soos knewels wat bly knaag en knaag.
Dink 'n mens te veel? Soek 'n mens te veel na antwoorde waarop die vrae nog uitgedink moet word? Waarom soek 'n mens dinkplek terwyl die mees idilliese, rustigste plek van almal sommer 'n kort rit teen 240 km/h is. Jip, soms as die dinkwerk nie meer werk nie, gaan jy "walkabout": Jy ry tot jou tenk leeg is en hoop vir 'n geleentheid.
Een ding belowe ek jou: Ek gaan daai grondpad baie, baie stadig ry. Jy sal agterop my GS sit en ons sal by die uitgewysde plekke waar die massas vertoef, verbygaan. Tot heel bo. Daar waar Angela rus. En dan sal jy ook sien hoekom sy juis hierdie spesifieke plek gekies het. Hier waar jy die Blou Dam kan sien sonder dat sy jou gedagtes verstoor. Hier waar die wind jou dwing om na jou jas te gryp. Hier waar dit voel asof die spoke loop. Want ek weet jy kan die nare goed verjaag as hulle so in die na-nag kom pla. Ek weet jy verstaan dat niemand net sleg is nie, dat daar in elke een iewers iets goed is. Daarom dat ek jou wil opvat soontoe dat jy kan verstaan. Want ek weet daar is soos Koos gesê het: Geen oor teen 'n deur nie. Dat die tyd inderdaad jou huis belet is.
Want soms help dit eenvoudig nie om te dink oor dit waaraan jy in elk geval niks kan verander nie.
oester


