Jan Maarschalk se skrywe oor die tak in die bos het my aan die dink gesit. Wat hoor 'n mens as 'n tak in 'n bos breek waar niemand is om dit te hoor nie? Die antwoord is niks. Maar vir my is dit wat die gesprek self van ons sê ter sake. Hoekom wil mense yada yada oor of 'n geluid sy bestaan ontleen aan menslike waarneming of nie? Is dit maar net nog 'n pseudo-filosofiese riemrukkery tussen die verskillende ismes wat toevallig hierdie slag oor die verhouding tussen menslike sintuiglike waarneming en die werklikheid gaan en nie eens aan 'n bepaalde konteks, soos byvoorbeeld bewyslewering van 'n gebeurtenis, gekoppel word nie? Of is dit iets anders, iets méér as dit?
Klomp vrae kom by my op. Wat kan dan nou die sin van so 'n gesprek wees as daar nie enige aanwending of betekenis aan die bestaan al dan nie van die tersaaklike geluid gekoppel word nie? Moet daar noodwendig aanwending/nut of betekenis wees ten einde sin in die gesprek te sien? Kan 'n gesprek oor absoluut niks nie ook sinvol wees nie? Watter relevansie kan dit tog hê vir die lewe of daar 'n geluid was as dit nie in verband gebring word met 'n bepaalde event, in hierdie geval die breek van 'n tak, nie?
Wat is die doel waarmee gevra word wat hoor 'n mens as 'n tak in 'n bos breek waar niemand is om dit te hoor nie? Is dit om vas te stel of 'n tak gebreek het of om vas te stel of die geluid bestaan as 'n mens dit nie gehoor het nie?
Die fisikus, ongekontamineer deur filosofie (die drie sleutelwoorde!), sê daar is wel klank waar niemand kan hoor nie. Die eksistensialiste se antwoord, "niks, want daar is niemand om te hoor nie", is waaroor ek dit hier het. Jan skryf: "Eksistensialiste sê die enigste werklikheid is 'n menslik beleefde waarneming". Arrogante donners.
Die filosofie-gedrewe eksistensialistiese standpunt is deurspek van 'n algemene politiek van menslike meerderwaardigheid waarvan die menslike bewussyn deurdrenk is en waaraan filosofie en godsdiens as interverweefde dissiplines groot skuld het. Godsdiens vanweë die idee wat gepush word dat die mens die kroon van die skepping is en dat God noodwendig die mens in charge van alles hierso geplaas het en filosofie omdat dit op daardie idee van die rasionele wese se meerderwaardigheid, en dus sy geïmpliseerde heerskappy, voortgebou en geteer het.
Het God regtig die mens baas gemaak oor die aarde en alles op hom? My Portugese vriendin, Rita, 'n afvallige katoliek wie se lewe gekenmerk word deur seisoene van versoening met of verbanning uit haar kerk, was gevul met afsku toe ek haar vanoggend tussen die bevrore hoenders en die Weigh Less-spek in ons Pick 'n Pay daaroor vra. "Are you insane?" gil sy. Al die gholf estate se kugels versteen teen hulle trollies (ons dorp het nie 'n Woollies Food nie, so hulle shop maar saam met die gepeupel). "God would never be that stupid!"
Miskien moet ek net sê: Rita is op die oomblik juis weer onder die banvloek.
Krokodil


