Kolonie hoor graag van byname. Nou ja, so byna dertig jaar gelede het elke standerd agt-outjie daarvan gedroom om met sy “fifty” te kom waar hy wou wees. Geen uitsondering in ons jaargroep wat daai jaar die rype ouderdom van sestien sou bereik nie. Die groep manne wat elke oggend met ʼn oorverdowende lawaai by die skool se hek ingery het, het stadig maar seker groter geword. Fifties kon nie vinniger of stadiger ry nie, alleen maar harder en sagter, want daar waar jy die petrol gereguleer het, was net ʼn “volume control”. Elkeen het probeer om die klank so skel moontlik by die “exhaust” te laat uitkom. Alles om die meisies te probeer beïndruk. So het een van die groep ʼn paar horinkies op sy valhelm geprakseer (à la Hägar die Verskriklike) met twee klein rooi liggies wat gebrand het as hy rem trap of sy flikkerlig gebruik. Stel jou die spektakel voor. In daai tyd het die stuur nog so effens afgebuig na onder. Hier kom hy aangejaa(ui)g, fifty vasgeknyp onder sy bene, elmboë amper slepend op die grond, valhelm tot byna onder sy ken afgetrek om die goggas uit sy oë te hou, skooltas op die rug en liggies op die punte van die horings wat soos ʼn wafferse brandweerwa tekere gaan as hy om ʼn draai ry of iewers stop. Om nie te praat van die klank nie. Eeehaaaaaaaauuuuuw, prrr prr prr prr prr prr, eeeeehaaaauuuuw, iiiiiiiiihhaauuwww eeeehaaaauuuuuww haauuuuwww haauuuww hauwww, prrr prrr prr prr.
So het een van die vooskose van die groep op ʼn dag met sy splinternuwe derdehandse “fifty” by die skool opgedaag. So ʼn groene – self oorgeverf. Baie selfvoldaan met sy olierige haartjies, in ʼn middelpaadjie gekam om die puisies op sy voorkop te verbloem. Kort skoolbroek, grys kouse met die blou, wit en oranje strepe bo, Grasshopper-skoene en skooldas wat punt in die wind staan as hy aangejaag kom. En die breekstemmetjie wat ook nog so nou en dan deurslaan as hy iets sê. Bygesê, allermins dom, maar tog ʼn bietjie “over estimation” van sy “self esteem”. Sy bynaam was Gum Beatle, afkomstig, en direk vertaal uit die Afrikaanse “gomtor”. Sinspelend op dung beatle, maar tog effens versag en vir ons, beterklinkend op die oor. Ek dink nie ek gaan sy identiteit bekend maak nie. Ek het ʼn voëltjie hoor fluit dat hy deesdae ʼn welvarende prokureur is. Gum Beatle, eat your heart out.
Groete
Mahanaba


