Bokomo-brekfisbrief; 13/03/2011: John Stuart Mill: Goeie opvoedkundige saad ontkiem

  • 0

John Stuart Mill (1806-1873) was die oudste seun van die Skotse filosoof James Mill (1773-1836). Albei het Jeremy Bentham (1748-1832) se utilitarianisme uitgebou. Daarvolgens behoort ’n indiwidu altyd op so ’n manier te handel dat dit die grootste mate van geluk vir die grootste getal mense meebring. John Stuart Mill het dit met "binne redelike perke" gekwalifiseer.

Hy het Harriet Taylor (1807-1858) in 1830 ontmoet. Haar eerste man, John Taylor, is in 1849 oorlede. In 1851 is sy met John Stuart Mill getroud. In die politiek was haar sosialisme radikaler as die van haar tweede eggenoot. Sy het ’n groot invloed op sy skryfwerk gehad, onder andere op sy pleidooie vir vrouestemreg. Na haar dood het haar dogter, Helen Taylor (1831-1907), ’n soortgelyke maar mindere invloed op Mill uitgeoefen.

Mill se hoofwerk, On liberty (1859), word deur hom beskou as die uitkoms van samewerking met sy eggenote. Hy was teen sensuur en slawerny en ten gunste van selfregering vir die kolonies, ’n vrye mark en die behoud van die doodstraf. In sy liberalisme word die skadebeginsel beklemtoon. Iedere indiwidu moet vry wees om na eie goeddunke te handel, solank dit nie ander mense benadeel nie.

Daar is veral twee sake waarvoor ek dank aan Mill verskuldig is. Eerstens was hy bedag op die tekortkominge van demokrasie. Daarom het hy teen die tirannie van die meerderheid gewaarsku. Tweedens het hy gemeen dat gegradueerdes se stemme swaarder as die van nie-gegradueerdes moet weeg omdat hulle beter behoort te weet wat goed vir die samelewing is.

In die nuwe Suid-Afrika pluk ons daagliks die bitter vrugte van die tirannie van die meerderheid. Dink ook aan die groot verskil wat dit aan ons heil (bv voorspoed) sou maak as alle parlementslede op die sentrale en provinsiale vlak gegradueerdes was; iets wat ook raadslede op die vlak van plaaslike regering behoort te geld. Die ontstellende waarheid is dat baie van hulle nie eens funksioneel geletterd is nie.

Mill se onderrig in Grieks het op driejarige ouderdom begin. Sy vader, James, wou van hom ’n uitnemende intellektueel maak. Toe hy agt was, het James ’n aanvang met onderrig in Latyn gemaak. Daarna het wiskunde, logika, geskiedenis, natuurwetenskap, ens, gevolg. Mill skryf in sy outobiografie sy vroeë skoling "has proved how much more than is commonly supposed may be taught, and well taught, in those early years" (Essential works of John Stuart Mill, New York: Bantam Books, 1971, p 11).

"My father never permitted anything which I learnt to degenerate into a mere exercise of memory. He strove to make the understanding not only go along with every step of the teaching, but, if possible, precede it ... A pupil from whom nothing is ever demanded which he cannot do, never does all he can ... the standard of comparison he always held up to me, was not what other people did, but what a man could and ought to do" (p 28).

Wat Mill se lewe aantoon, is dat geleerdheid en insig moeisaam verwerf word. Deursettingsvermoë en toewyding oor baie jare is noodsaaklik. Intellektuele vermoëns, insluitende die sinvolle toepassing van idees, word gekweek en nie goedsmoeds oorgeërf nie. "Good seed is never wasted" (p xviii). "Most of these reflections were beyond my capacity of full comprehension at the time; but they left seed behind, which germinate in due season" (p 22).

Vergelyk dit met die hedendaagse opvatting dat onderrig en opvoeding sover moontlik moeitelose pret moet wees. "The new ... is training up a race of men who will be incapable of doing anything which is disagreeable to them" (p 39). Inligting word deesdae dikwels oudio-visueel aan leerders gevoer. Video-opnames, televisie en rekenaars word as onontbeerlike hulpmiddels geag. In werklikheid kan baie met gedrukte teks, dus sonder apparaat en elektrisiteit, bereik word.

Omdat alle mense gelyk verklaar is, is daar in skole nie meer spesiale klasse vir leergestremdes nie. Wat egter veeleer nodig is, is spesiale voorsiening vir begaafde leerlinge wat later leiding in die samelewing kan verskaf. In die nuwe Suid-Afrika word leergestremdes (anders as fisiek-gestremdes) en begaafdes deur die owerheid misken. Daar sal te veel leerders uit een of meer groepe onder die leergestremdes en te baie van een of meer ander groepe onder die begaafdes wees. Dit is ook waarom leerders nie meer op ’n gereelde grondslag hiërargies (“Ek staan eerste in die klas”) geklassifiseer mag word nie; ook waarom die beste presteerders in matriek nie meer graag deur die owerheid in die openbaar geparadeer word nie.

Iets wat inspanning verg, word in die nuwe Suid-Afrika vermy. As ’n skoolvak, bv wiskunde, te moeilik is, word ’n alternatief in afgewaterde vorm aangebied. As punte moeilik in grammatika behaal word, word taalkunde by letterkunde ingesluit. As tans bevoordeeldes in ’n ander taal as hulle moedertaal studeer, kry hulle gratis punte. As sokker en stakings onderrigtyd verminder, word die punte opwaarts aangepas.

As op die tersiêre vlak van onderwys toegang tot die professies moeilik is, word die studietyd (bv in die regte en ingenieurswese) verkort. As daar gesogte professies oorbly (bv geoktrooieerde rekenmeesterskap) word knaend geneul vir die daarstelling van ’n afgewaterde kwalifikasie. By voltooiing daarvan moet die kandidate egter steeds rekenmeesters genoem word en mag daar nie by aanstelling, bevordering en besoldiging teen hulle gediskrimineer word nie.

In die ou Suid-Afrika was die uitgangspunt dat universiteite grade, kolleges diplomas en ander opvoedkundige instansies sertifikate uitreik. Sodanige hiërargie is deur gelykmaking vernietig. In naam is technikons voortydig tot universiteite opgegradeer en universiteite ken nou ’n bose verskeidenheid diplomas en sertifikate toe. In werklikheid is universiteite voorgraads tot kolleges neergehaal. Toelatingsvereistes is verslap en dosente word by voorkeur ingevolge nie-akademiese oorwegings aangestel en bevorder. "All the political changes of the age promote it, since they tend to raise the low and to lower the high" (p 321).

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top