Heelwat jare later bedink ek weer my rede hoekom ek destyds op SêNet begin skrywe het. Diegene wat my ken, weet dat Engels my huistaal is. Ek het destyds stadig maar seker in Afrikaans begin skrywe, in die hoop dat ek darem bietjie van my herkoms kon red. Danksy die gewillige webvoete het niemand anders geweet dat ekke nie kon spel nie, en soms ‘n ander manier gehad om myself uit te druk, maar nietemin, het Webvoet dit alles so mooi reggeruk voor hulle ‘n briefie geplaas het.
Ek het in daardie vroeë jare die ou SêNetters se debatvoering geniet. Daar was ‘n soort van ongesproke kompetisie tussen mekaar oor die fyn kuns van debatteer en ook die fyn kuns van brief skryf.
SêNet was uiters verslawend. Die afwagting vir die volgende dag se briewe was juis een van die dinge wat SêNet so besonders maak. Daar was ‘n spesiale kameraadskap en band tussen mekaar. Woorde-vriendskappe was in italic gesmee, die res in hoofletters teenoor mekaar in titels gestaan.
Die onderwerpe van bespreking het oor die jare min verander. Die ongeduld, onaanvaarding en onsubtiele manier van debatteer het immers ‘n ekstra rissie bygevoeg. Die ongewilligheid om na ander se standpunte te luister (lees) en die terugvoering in swak smaak, het SêNet se bootjie vele maal laat amper-kantel.
Die eentonige wit geraas van die Kdk se woordeval teenoor die swak etiket van FW by die woordetafel, laat die blad verkrummel.
Lekkerlees stories soos van ouds is deesdae bitter skaars. So nou en dan kan mens ‘n goeie een saam met brekfis geniet.
Ek het intussen begin blog (steeds op LitNet) juiste omdat ek ongemaklik begin voel het, want ek glo daar is baie meer vulsel in die lewenstoebroodjie as godsdiens en politiek. Die ou-oues is weg … My brief-heroes soos Namib en Sopbeen het vir ewig in die WWW verdwyn. MaanKind sien ek darem hier so nou en dan. Yuri lees ek is met mening terug. Ek lees ook Lafras se naam raak … (Hallo Oester, ekke wag nog vir daai gebrande koffie!)
Miskien kan Litnet/SêNet redaksie ‘n reünie week op SêNet hou. Slegs die ou-ou SêNetters se woordebroodjies sal bedien word. Ek is seker Naomi kan ‘n paar ou e-posadresse opdis en ‘n uitnodiging aan diegene rig.
Of dalk kan vorige Webvoete elk vir ‘n week terugkeer, elk met hul ou SêNetters van hul tyd …
Maggie, ek’t nou my bek ook kom rek … Hoop dit was groot genoeg!
Groetnis,
Sue
Dankie Sue! Ek klan nog nie jou mangels sien nie … – Maggie


