So ʼn paar jaar gelede was ek gelukkig om in die perfekte posisie te woon om die warmlugballonne gereeld te kon waarneem. Male sonder tal het hulle regoor ons huis gesweef. Amper geruisloos op ʼn windstil oggend, seil een van die lugreuse vroegoggend in die pragtige blou lugruim na ons huis se kant toe. Ek en Goggie staan op die voorstoep met ʼn lekker beker vol boeretroos en hou (soos gewoonlik) die ballon se vordering dop. Maar die spesifieke oggend waarvan ek nou skryf is dit effens (lees heelwat) anders.
Gewoonlik as die ballonne hier verby/oor ons kom sweef is hulle redelik hoog bokant die grond. Ek skat minstens sowat twee-honderd meter bokant die horison, dalk effens meer. Op windstil oggende kon ons soms die mense se stemme hoor, maar nooit werklik uitmaak wat daar gepraat word nie. Dan was die klompie "ruimtereisigers" se koppe ook gewoonlik duidelik vir ons op Moeder Aarde van ver af sigbaar. Seker minstens agt of tien mense (dalk meer) wat die koel oggendbriesie kom trotseer het vir die enjinlose vlug.
Elk geval, Goggie merk toe ewe droogweg op dat dit lyk asof die ballon baie laer as gewoonlik in ons rigting vaar. Ek kyk toe mooi, en wrintiewaar, my kennersoog werk vinnig uit dat die gevaarte nie meer as sowat vyftien tot twintig meter hoog vlieg nie! Erger nog, die ding dryf reguit in ons rigting! As die loods, drywer, bestuurder of wat ookal die persoon in beheer van so ʼn kontrepsie genoem word, nie vinnig begin kole gooi nie, gaan hulle die huis mos tref!
Dit is toe dat ek merk daar is nie ʼn siel in sig in hierdie mandjie nie! Ons albei se eerste gedagte is dat dit ʼn weghol-lugballon moet wees!
Dit is ongelooflik hoe groot ʼn mens kan skrik. Die ballon sak ook duidelik laer soos wat dit nou dreigend "aangestorm" kom. Dit lyk kompleet of hy nou spoed optel. Stom, heeltemal stom, staan ons skielik op die grasperk weg van die huis af. Ek kan nie onthou dat ons soontoe gehardloop het nie?? Ons kyk in ʼn "trance" hoedat die ballon se mandjie sowat 15 meter van ons af liggies (regtig liggies) die huis se nok met ʼn effense tikkie oorsteek.
Ek is nie ʼn man wat maklik vloek nie, maar hierdie is mos ʼn uitsondering!
"Bliksem!", bulder ek dit uit, "Dit was amper!" Ons hardloop om die huis om te sien waar die ding gaan neerstort.
Skielik is daar nou twee koppe sigbaar in die wegdrywende mandjie! ʼn Harde dreungeluid is nou ook duidelik hoorbaar. Iemand brand die "gasbrander" voluit! Sentimeters van die grond af begin die ballon weer hoogte wen. Vinnig tel die ding hoogte op, maar nie te vinnig vir ons om te sien die paartjie (regtig) is besig om nou vinnig klere reg te trek nie.
‘Wat de duiwel doen hulle ... het hulle gedoen?' flits dit hier deur my gedagtes.
Met dié dat ek besef, dat hulle nou weer veilig is, sê ek hardop: "Gelukkige bliksems!"
Goggie skud haar kop in ongeloof toe sy dit hoor.
"Selfs in die eienaardigste situasies en omstandighede het jy nog steeds tyd om dubbelsinnig te wees," raas sy, sommer so in die wegloop huis se kant toe.
Seker maar as gevolg van die groot skrik?
Neels (Husky) Visser


