Dit was nogal snaaks om te verneem dat Maggie se wederhelfte na haar Engels as Eliza Doolittle-agtig verwys! Ek het al vele beskrywings na Engels-gestremde Afrikaners gehoor, maar dit is nogal ’n nuutjie!
Ek en ’n spul vriende het juis die vakansie gesit en vir ure geklets oor die flaters wat mens soms in Engels maak. Daar is so baie dinge wat ’n Afrikaner maklik weggee, selfs al het hulle van die swaar Afrikaanse - aksent ontslae geraak. "I will throw you with a rock!" is darem maar een van daardie weggee frases wat soms groot vermaak tot gevolg het.
Terug na die blapse:
My Ouma ontken dit tot vandag toe, maar toe ons klein was en die groentewinkel besoek het, het sy die Griek gevra: "Where do you keep the wurtels?"
My Oupa vertel altyd hoe sy suster met haar eerste besoek aan Johannesburg die winkelbestuurder die volgende gevra het: "How much is those dollies in de window?"
’n Vriend van my het sy Britse CEO na Suid-Afrika verwelkom met die volgende: "Welcome in South Africa. Was you on holiday?"
’n Vriendin het gordyne en ander tierlantyntjies vir haar nuwe huis gaan soek. Toe sy nie die woord "lace" kon onthou nie het sy maar die volgende gevra: "Where do you keep your kant?”
Dan is daar my eie blaps wat ek in my laerskooldae begaan het. My ma het my en vriend Willie na die OK gestuur om leë bokse te gaan oplaai aangesien ons in die proses was om te trek. Ek vra die dame toe in mooi Afrikaans "Kan ek by julle leë bokse kry?" Die dame was duidelik Engels en ek en Willie moes toe vertaal. Ons het in ’n redelike Engelse buurt groot geword, so dit was nogal heel maklik om te vra "We are looking for empty ... " maar om die een of ander rede kon ons nie die Engelse woord vir "boks"onthou nie.
So bespiegel en gis ons en kom tot die konklusie dat ons die korrekte vertaling opgespoor het. Ek draai toe terug na die winkelassistent en vra "We are looking for empty doses!"
Nodeloos om te sê moes ons terughol huistoe net om uit te vind dat ons die twee tale omgeruil het. Geen wonder die arme vrou was verward nie.
Mens moet nie skuldig voel oor jou flaters in die rooi taal nie! Ek maak dit nog elke liewe dag, maar praat met soveel vertroue, dat mense selde agterkom waar ek verbrou het. Behalwe as dit nou iets soos kant en doses sou wees!
Groete
FB


