Bokomo-brekfisbrief; 12/12/08: Die blerts van die hadida

  • 0

 

 

ʼn Mens moet gereeld op jou knieë gaan, maar om dit weens die inkontinensie van hadidas te doen, is nie 'n opheffende praktyk nie.

As die hadidas onder die veranda inkom om te kyk of daar iets in die hondebak is, dan weet ek dis droog daarbuite - die natuur lewer nie geredelik op aanvraag nie. Hoe hulle die groot Pedigree-korrels eet met daai gespesialiseerde sabelbekke weet ek nie.

Maar nou gaan hierdie kossoekery op die stoep nie gepaard met dankbaarheid en bedagsaamheid nie. Nee. Op pad in, en op pad uit, toiletteer hulle op die plaveistene, sommer so in die loop. Meestal groot wit kolle, maar partykeers bewerkstellig hulle ʼn blerts wat lyk soos ʼn eier in ʼn pan, net die geel is nie geel nie, maar modderbruin tot swart. (En hoe op aarde doen hulle dit so netjies - hulle kyk dan nie eens om nie?)

Ek moes gaan sit en hadida-blertse opruim. Darem nie die hele dag lank nie, net vir langerige rukke. En daar kniel en hurk ek toe, met 'n emmer water en 'n borsel. Gelukkig kon die meeste van die kolle darem met net 'n bietjie geskrop verwyder word, maar 'n hele klomp ander was taamlik diep ingespuit in die stene in.

Afhangende, blykbaar, van die spoed en dringendheid waarmee die uitskeidsel die hadida verlaat. Ek neem aan dit het te doen met die intensiteit van skrik waarmee die voëls op die aanstormende rottweiler reageer.

Daarna moes ek die stoep met die tuinslang afspuit. (Ek gaan nog eendag 'n tesis skryf oor die eiesinnige, hardkoppige wispelturigheid van tuinslange - ek weet net nie of dit in fisika of sielkunde moet wees nie).

Volgens my lyk dit nou beter, maar my vrou het niks opgelet nie, want sy parkeer bo-op daardie deel van die stoep. Ek het haar probeer uitlok om bewondering uit te spreek vir die wyse waarop ek my brood verdien het, maar sy't onmiddellik gevra wat eet ons vanaand. Roereiers, het ek gesê, maar instinktief aangevoel ek moet haar liewer nie oor sekere kenmerke van hadida-blertse inlig nie.

Noudat dit gereën het, skrop die hadidas meer in die bos. Of hulle sit op die takke en beblerts alles ondertoe tot dit in so ʼn toestand is dat geen ander lewende wese daar ʼn bestaan kan, of wil, maak nie. (Behalwe miskien bakterieë, maar dié gaan ek nou nie navors nie).

Of hulle vlieg so ʼn entjie en gee dan daardie benoude gil wat, volgens voëlkenners, bewys dat hulle aan hoogtevrees ly.

Tydelik verligte groete,

Swys

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top