Bokomo-brekfisbrief; 12/08/2010: Op die langpad met vis, sonder ys, in die son

  • 0

Tannie Bybs is dood, laat weet Julius, en skielike flitse van aangename herinneringe draai soos video’s in my kop: Sy, voor die ou Görs und Kallman klavier in die kliphuisie by Hoy se koppie te Hopestraat15, Hermanus; en ons almal saam in volle vrolike bors aan’t sing. Haar kenwysie Waltzing Mathilda sommer drie of vier keer op een aand tussen die FAK- en ander liedere.

Tannie Bybs was baie dinge: sang, lag, vertel, kook, eet, blomme kyk – soos dronkstompies, aalwyne en proteas bv - teen Rethna Gail se hange agter die dorp. Haar naam het beteken: GENIET! Maar tussendeur kon mens ook iets prakties by haar leer in die toenemend onprakties wordende tye van blikverpakte kits agteruitgang op die gebied van norme en waardes. Ons jong Transvalers wat kom vakansie hou het in  Hermanus veral, sou dit deeglik uitvind met die jaarlikse walvis- en makrielloop aan die Kaapse suidkus. Dit was in die begin jare Sestig, vorige eeu, vorige millennium toe daar nog vis was aan die land se kuste, en perremakriel, soos die sardiens aan die Natalse kus, jaarliks. Want wie kon nou in ons vooruitstrewende vrieskasdae voorsien om `n lang reis tot ver oorkant die Vaal te onderneem in `n 1958 Pontiac met `n vrag  vis in die kattebak, sonder sulke koelgeriewe.

”Nieee bokkie,” het sy ons aarseling om, na die eerste streepsak vol makriel, nóg méér te vang, hande vladderend van die dag se agendatafel afgevee. ”Niee man, vis kan nooit te viel wies in die huisietjies van onse dorpie nie!” En ons vang. Die makriel byt asof hulle daardeur asiel vind, vry uit die Walkerbaaise see. “Jy gaat nog daardie Pontiac se `boot` vol pak en `n jaar lank vis uit Hermanus iet,” beduie ta’ Bybs en druk `n stukkie geelstertbiltong in my mond toe ek wou walgooi. Hoe de joos gaan `n vrag vis in die warm Karooson agter in  die kattebak al die pad van Hermanus af oor meer as duisend myl, met nog eendagkuiers op de Doorns, de Aar en Tweespruit ook, dit oorleef? Sit die beterweterige Kapenare nie dalk die pot hier lelik mis nie, en beland ons so in `n al te nare situasie met `n vrag vrot vis iewers op die lang pad noorde toe?

”Nieee, kom ek wys jou,” lispel ta’ Bybs wat my vrae almal vooruit weet. ”Jy sny koppe af en pensies oop, sy haal dermpies uit en sny stertjies af. Jy Julius, pak dan die bokse reg en jy Coenie, gaan haal gou nog `n sak growwe sout en `n paar plat droogskoonmaakbokse by Lu-hulle.”

En ons sny en skraap skoon en vlek en pak. Dis warm en ons gaan vier dae op pad wees. ”Nieee, jy sal sien, my ou bokkietjie,” en sy trek my jongmansbaardjie. Haar stem rits die woorde af soos wanneer sy toonlere oefen op die ou klavier, geen metronoom kan bybly nie. ”My ou vader-hulle het soe gemaak, en vis met perrekarre oor twie dae Kaap toe aangery in die warm son. Die jong mense weet vandag nie meer van swaarkry en self uitvind van hoe om te oorlewe nie. Alles word geblik by groot winkels gekoep, behalwe eie identiteit en inisiatief. Hulle sal nie wiet hoe om te oorleef as Armageddon van die lang messe oek soos `n Bartholomeusnag kom nie.”

En ons pak. Ses droogskoonmaakbokse vol, want dit is al wat die Pontiac se kattebak kon hou. Die res van die vis gaan na ta’ Bybs se rondawel toe, waar dit koel is, sê sy toe. En die ou rooi kar van ons gaan dag lank in die blakende son wees, vir `n hele paar dae? Ek bly onrustig wonder, want koel gaan dit gewis nie in daardie kattebak wees nie, anders as in die rondawel.

Maar ons pak, matriarg Bybs is soos by `n olifanttrop in 'charge’. Die gevlekte makriel moes eers winddroog word oornag, en, sonder dat dit ooit naby water kom, net so onder laag op dik laag growwe sout gepak word, sonder dat die vis êrens aan mekaar raak. Geen water naby nie, en geen kontak van vis teen vis nie; Mede en Perse Wet nommer een en al. Die laaste boonste laag is dan `n dik soutkombers voor die deksel op kom.

En ons ry. Die Pontiac se stert lê laag, soos `n hiëna wat druipstert wegsluip van die toneel waar `n leeu sy prooi afgeneem het. Dit ken ek: hiënas, en leeus. Nie perremakriel vars onder sout begrawe agter in `n ’58 Strato Chief op pad bosveld toe van Hermanus af, sonder enige verkoeling, in die warm son nie. Ek dog ons gooi die spulletjie nog iewers naby Hemel-en-Aarde al weg, voor ons by die Langenhovens op de Doorns aankom. Maar alles ruik nog `kosher` toe ons daar stilhou. Dis druiwetyd in die Hexriviervallei, en Philip en Hanna kuier so tussen die werkery deur in oom Alex van Niekerk se pakstoor. Ons help ook waar ons kan, en dit stel my – memento kleptomaan – in staat om een van die swart uitknipskêrtjies vas te lê. Wat `n memento! Ek onthou dit toe lewenslank, selfs na `n bieg en belysessie by `n opwekkingsdiens van die Oxfordgroep, jare terug, waar die boodskap toe oor die klein jakkalsies gegaan het wat die wingerd verniel. Voltreffer!

En die ses bokse vis was die tweede aand by skoonsus Jess op de Aar nog steeds 'kosher,’ so visbiltongerig amper, eintlik prikkelend die eetlus. Ek begin tannie Bybs so stil-stil glo, want selfs die derde aand op Tweespruit by my alma mater, is alles nog donkie horries (of iets wat naastenby so klink in Engels, vir 'orraait') en ons vertrek huis toe, na `n draaitjie by oubaas Frans Claerhout se ateljee om sy snaakse skilderye te bekyk. Nêrens het hy `n vis geteken nie, en ek wonder toe of hy my sou glo as ek vertel van ons wonderlike visvangs en die nagevolg daarvan.

Uiteindelik tuis, en baie verlig, het ons die sout alles afgeborsel, (geen water nie, het ons onthou,) en die vis oorverpak vir die vrieskas, om vir `n jaar of wat die heerlikste feeste te geniet met ta’Bybs se perremakriel wat son en weer en bederf weerstaan het. Ons was ook goed belig oor die 'jeug-van-vandagsindroom' en het oral rondgeloer vir innoverende idees om Armageddon uit te stel tot die volgende makrielloop ten minste, aan die Kaapse kus. Dalk was die verligting ook grootliks te danke aan die feit dat ek nie gestraf is oor die roof uit oom Alex van Niekerk se bateregister van een swart knipskêrtjie nie. Ou koning Dawid het glo mos eenkeer ook die toonbrode, wat vreeslik taboe was, opgeëet toe hy jonger was. Dalk word almal wat die gaps van skêrtjies as memento’s, mea culpa bely voor `n Geestelike waarheids en versoeningskommissie, ook manne na God’s hart.

Johann de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top