My naam is Valcro en ek is net agt wekies oud. Ek woon saam met my ouers in ’n kompleks. Ons posseëltuintjie met sy lekker plante is vir my soos die hemel, veral wanneer ek die groen goedjies so uitgrawe, dat jy net grond sien spat. My pappie is natuurlik nie daarmee beïndruk nie en ook nie as ek die hele grasperk vol sponsdorings los nie! My ou laventel-plassies is blykbaar ook nie gewild nie. Ons twee katte moet soms bontstaan en dit lyk soos ’n boksgeveg wanneer hulle my op die snoet probeer kap en ek soos Mike Tyson koes.
Gister het Oupa en Ouma kom kuier en later gaan uiteet. Hulle los my toe wraggies alleen in die tuin en onmiddellik is ek baie gekrenk. Ek soek en krap en tjank, maar uitkomplek is min. Kap-kap nog vir oulaas teen die sifdraad aan die hek … haai dis los en ek wriemel deur, my vet pensie ten spyt!
Oeps! Wat nou? Ek is letterlik soos ’n hond wat ’n bus gevang het en nie weet wat om daarmee te doen nie! Daar bo in die laan speel kinders en ek waggel soontoe op my krom beentjies. Natuurlik word ek opgeraap, want wie kan nou so ’n bondeltjie bruin fluweel met sy kwylende lagbekkie weerstaan? Fout! Eina! Die een mannetjie is rof en sleep-dra my na sy huis toe. Sy mammie lyk heel ingenome met die nuwe speelmaat en maak sommer die deur toe. Die abjater werk my sake en ek voel naderhand soos ’n rugbybal in ’n skrum.
Na wat soos ure van marteling voel, hoor ek Oupa se stem by die deur. Hy vra mooi vir die mammie of sy my dalkies gesien het, maar sy sê nee! Die kleine martelende bliksempie loer ook agter sy ma se rok uit en swyg soos die graf. Later is die hele kompleks in rep en roer en Oupa loof ’n beloning van driehonderd-rand uit. Ouma hol nog op en af, terwyl Pappie en Oupa begin om kennisgewings van my status te beplan.
Skielik word ek wonderbaarlik, agter in die kompleks se nou gangetjie gevind … Oupa en Ouma hét daar gesoek! Van ver af gil twee samaritane (ek sê vir julle, dit was ’n komplot!) vir Ouma en hardloop haar tegemoet, met my al wippende in die arms. “We want cooldrink,” gil hulle en Ouma gryp my en drup ’n hele sarsie trane op my seer kop.
Pappie is oorstelp en Oupa druk die driehonderd-rand in die vinders se hande! “Cooldrink” se gaai! Hulle lyftaal spreek boekdele. Ek weet ook nie hoekom verlore honde deesdae teruggekoop moet word nie!
Gelukkig was ek nie in Viëtnam nie, anders was ek dalkies woefbredie! Nou sit ek darem net met seer ribbes en ’n grote moegheid.
Groetnis van my Ouma,
Perde-Wit-Dwergie-Bytjie


