Bokomo-brekfisbrief; 12/02/09: Die Latyn-klas

  • 0

 

Hierdie storie is die reine waarheid. Dit het vroeg in die eerste kwartaal van my st 9-jaar in Diamantveld Hoërskool in Kimberley gebeur.

Ter agtergrond die volgende: Ek was nuut in die skool nadat ons Windhoek verlaat het. Ek het nie broers gehad nie en was bang vir seuns. Hoewel ek in Windhoek vir twee jaar met ʼn kêrel uitgegaan het, was ek steeds bang en ongemaklik in ander seuns se geselskap. Ek was ʼn skaam, eenkant meisiekind wat aanpassing in ʼn nuwe skool elke keer traumaties ervaar het. Diamantveld was die vyfde nuwe skool wat ek moes aandurf.

Met hoofmeisiesuster Riana as ons rolmodel, het ek en Sarie (twee standerds voor my) half vanselfsprekend ook heel verdienstelik aangekap met die Latynse taal. Meneer Uys van WHS het nie getwyfel dat dit goed sal gaan met my daar in Diamantveld nie. Daar aangekom, wag ʼn groot skok egter op my in die gedaante van ʼn Engelse Latyn-onnie - die geriatriese reverend Sloan, gevaarlik na aan sy tagtigste somer.

 

Diamantveld is ʼn goeie skool en ek weet eerlikwaar nie waar, en om watter rede, hulle hom uitgegrawe het nie, maar hulle moes desperaat gewees het. Niks verkeerd gewees met hom as mens nie, net geheel-en-al uit pas met die Latynse leerplan. Hy was regtig nie aldag lekker by nie.

Ek en hy het gesukkel om oor die weg te kom en mekaar heeltyd misverstaan. Sy hot-potato-in-the-mouth uitspraak van woorde was moeilik om te verstaan en sy neus boonop heeltyd toe. Sy snorkend-snuiwende aanslag het nie veel hond haaraf gemaak nie en sommer gou moes ons gaan vir ekstra klasse na skool. By hom.

Uit die tienstuks of so het net ek en ene Pieter opgedaag vir die eerste ekstra klas. Ons het op daardie tydstip nog nooit eens met mekaar gepraat nie. Ek het steeds soos die nuwe, skaam, agter-die-klip meisie van Suidwes waaroor niemand juis intens gewonder het nie, gevoel. Hy was ʼn kort donkerkop met ʼn oorgroot brilraam, die perfekte voorbeeld van ʼn hedendaagse nerd. Dit was warm, ons was moeg en honger en het vroeër reeds twee Latynperiodes agter die rug gehad. My gedagtes was nie by ou Sloan nie, maar by die atletiekoefening wat ek weens die klas sou misloop.

Sloanie se oë was so sleg dat ons nie eens hoef te gelyk het of ons belangstel nie. As ons ook net verdwyn het, sou hy dit dalk nie eers agtergekom het nie. Maar toe bly sit ons maar, ek in een hoek van die klein koshuislokaal, en Pieter in die ander hoek; genadiglik darem buite trefafstand van die reverend se speekselmissiele.

Meteens het ek net bewus geraak daarvan dat daar iets anders was in die klas. Byna asof daar skielik ʼn vreemde energie in die vertrek aan't werke was. Ek het na ou Sloan gekyk, maar hy het nikssiende eenstryk deur voortgespoeg. Toe het ek onderlangs na Pieter geloer en my byna uit my skoolrok uit geskrik.

Eers nie geweet of sien ek nou reg deur my eie bril nie. Want die javel was sowaar hand-in-die-broek besig om sy membrum virile met ʼn sielsalige uitdrukking op sy bakkies, te plesier.

My ore het begin gloei en toegeslaan, en bloed het in ʼn pynlik-warme, uitgerekte bloos in my gesig geklop. Die Engelse uitdrukking, "I didn't have the foggiest notion what to do", is die mees beskrywende woorde om my gevoelens op daardie oomblik te beskryf. Ek was tegelyk vies, verneder en tog gefassineerd dat ek so ongevraagd as toeskouer betrek is, en het my omtrent doodgeskaam terwyl hy homself gate uit geniet.

Voor ek kon wegkyk, het hy sy kop onverwags gedraai en na my gestaar met hormoonbelaaide oë. Toe kon ek dit nie een sekonde langer uitstaan nie. Ek het opgespring, vir ou Sloan gemompel dat ek eenvoudig op die atletiekbaan moes uitkom, en by die klas uitgevloog teen die spoed van lig.

Daarna het die reverend my nooit weer in ʼn ekstra Latyn-klas gesien nie. Hy was erg omgekrap en het my telkemale verseker dat ek nie die Junie-eksamen sou deurkom nie. Desperaat het ek elke moontlike vertaalstuk in die handboek uit my kop geleer en net ʼn bietjie klei getrap met die onvoorbereide vertaalstuk. So het ek myself daardie eksamen onortodoks, maar hoogs geslaagd tot 81% ge-amo, amas, amat, amamus, amatis, amant.

Pieter en ek het toe nooit ooit met mekaar gepraat nie, want ek het hom soos dryfsand vermy. Hierdie storie het ek nog vir niemand vertel nie, nie eens my susters nie. Dit het nogal moed gekos om julle daarvan te vertel.

Ou Pieter, inter nos, in die onwaarskynlikheid dat jy dalk net hier lees, vandag is dies irae. Jy kan my gerus laat weet watter verskoning jy by die huis of koshuis opgedis het vir die nat kol op jou broek. Ek was mos darem deel van die show.

Vice Versa!

Douwleen Bredenhann

NS - inter nos - tussen ons twee; dies irae - dag van afrekening; vice versa - die posisies is omgekeer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top