Bokomo-brekfisbrief; 11/12/2010: Om lig te reis

  • 0

In ons dae het mens swaar tasse skool toe gedra. My herinneringe aan my skooldae is van hoe ons elke oggend en middag swaar-dra-al-aan-die-eenkant ons tasse oor ons skouers agt blokke ver moes vervoer. Op hoërskool het ons ’n dik handboek en ’n skryfboek vir elke vak gehad. Dan was daar ook jou sportsak, want jy het gewoonlik LO of middagsport gehad. Vandag werk dit nie meer so nie. Die kinders weier om elke dag al hul boeke te bring. My dogter het in Graad 12 vir twee weke in revue- en netbal-tyd haar tas in haar sluitkassie gelos en hom nie eers huis toe gebring nie. Ons sal nie uitbrei oor die duik in haar wiskunde- en wetenskap-punte nie!

Ons chemie- en wikunde-handboeke moes ook op universiteit saamgedra word. Dra sal jy dra!

Ons was lede van ’n stapklub. Vir jou eerste staptoer pak jy gans te veel goed in jou rugsak. Daarna leer jy gou om net ligte goed te pak, jy sal eerder vuil wees as honger ly, so net een spaar kortbroek en T-hemp en ’n reënbaadjie. Gelukkig is my man groot en sterk en het gereeld van my goed in sy sak gedra.

Dan trou mens en kry kinders. Ewe skielik is jou hande altyd vol. Jy klim uit die kar met sakke en nog sakke. Doeksak, stootwaentjie, inkopiesakke en jy moet nog ’n hand vry hê om baba op die heup vas te hou. Wanneer daar met vakansie gegaan word is geen motor ooit groot genoeg nie. By ma se voete staan die padkos en ander noodsaaklikhede en wanneer die kinders iets nodig het, moet sy oor die rugleuning hang om te help, want Pa stop nie nou weer nie; hy’t dan skaars twee ure gelede stilgehou vir ’n hele 12 minute!

Regdeur die kindersgrootmaak-periode is jy nooit los nie. Dit voel of jy vasgemaak is aan sakke, kosblikke en kinders. Jy begin swaar te reis.

Gelukkig kry jy iemand om na jou kinders te kyk sodat jy op jou eerste oorsese reis kan gaan. Groot tas, vol gepak. Dis ’n goeie tas, hy het wieletjies, hy gaan jou vir altyd hou, dwarsdeur al jou oorsese reise, as hy net nie so vrek swaar was nie. Jy sleep hom saam op vele lughawens en treine, probeer hom in ’n huurmotor inpas. Hy sal beter op die sitplek pas as jy maar net in die bagasieruim kon inpas! So leer ’n mens.

Later se oorsese reise weet jy dat ’n kreukeltrae swart langbroek van Woollies wat in die aand uitgespoel word in die oggend droog sal wees en dat jy hom kan opdress vir die konferensie of banketete.

Een paar stap- en een paar grênd skoene is voldoende. Jy leer om altyd een ekstra sak opgevou saam te neem, jy het altyd meer goed as jy terugkeer. Anders moet jy ou klere saamneem wat jy kan skenk aan armes om plek te maak vir jou nuwes.

My hele lewe lank werk ek al daaraan om lig te reis. Toe ons uit die stad na Kathu getrek het, het ek letterlik die helfte van my besittings weggegee en besef jy jy het tonne meer as wat jy nodig het. My motto nou is; ek koop nie een meer ding om in my huis te sit nie. Hoe meer dinge jy besit hoe meer tyd mors jy om dit op te pas.

Dit het my nou laat dink aan Jesus wat gesê het dat ons ook lig moet reis deur die lewe. “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee,” het Hy gesê. By Hom is die las lig en die juk sag. Ons kan daardie swaar sakke wat ons deur die lewe saamsleep, by die kruis gaan neersit en vry verder stap.

My hande is nie meer so vol nie en dis ’n lekker gevoel.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top