Dis drie uur in die oggend toe ons die mynkampong met meer as 'n duisend betreders en onwettige immigrante aanvat. Georganiseerde chaos. Polisiemanne en weermaglede skouer aan skouer. Spykerbekke wat verwoed tjank-blaf. Duisend-voeters wat die kompleks in 'n geel-oranje waas ophelder. Stemme wat opgewonde skree en die reuk van traanrook swaar in die lug.
Van kamer na kamer. Deure oopskop. "Wat maak julle hier? Trek aan en tree aan in die sementblok! Kom, KOM!"
Swart hande wat eers voor knippende oë gehou word en dan verward begin gryp na stukkies klere in die halfdonker. "Ek kom, baas, ek bêre net my goed!" Lywe wat verward in die donker rondskarrel en bondeltjies klere in nagemaakte kiste met Sjinese skilderkuns inprop. Rolletjies tien-randnote wat inderhaas voor by die broek ingedruk word. Want hulle weet. Môre is dit hof toe en dan is dit boete-tyd. En kan jy nie betaal nie, sit jy met jou gat in die tronk en dan kan jy maar jou djop en jou besittinkies koebaai soen.
Ek werk swieper-groep en soos wat die ouens voorlangs die kamers skoonmaak, loop ons stadig van vertrek na vertrek en vis die verstekelinge uit wat onder die beddens en agter die hangkaste wegkruip. Kyk vir wapens en wees reg om te skiet, want teen die tyd dat jy die plek begin deursoek, het die halsstarriges al kans gehad om tot verhaal te kom en hulleself te bewapen. "Daar is beslis ANC-terroriste hier" is vroeër gesê, so ons is paraat verby.
Adrenalien wat pomp, meubels wat weggeskuif word. Hande styf om die R1's geklem. Vinnig werk ons in stilte, kamer vir kamer.
Dan stap ons in 'n saal van 'n vertrek in en begin hierdie een ook sistematies deurwerk. Van een bed na die ander. Deur die kaste, onder die tafels, binne-in die Sjinese kiste. Niks, die plek is skoon. Terug deur toe en ek is die laaste om die vertrek te verlaat. Maar dan hoor ek dit van agter 'n hangkas in een hoek: Kug-kug!"
Sjit, een van die etters kruip daar weg!
Stemme roep uit die gang: "Kom jy, Oom Daan?" Ek roep: "Ja-ja, ek's nou met julle!" Maar dan sluip ek stilletjies en op die punte van my tone terug na die hangkas. Veiligheidsknippie af, diep asemhaal ... RUK die kas met al my krag weg van die muur en ... WHA! Daar staan hy in al sy glorie! Een van die donners het homself binne-in 'n muurholte agter die kas ingewurm en nou staan hy kiertsregop met sy arms langs sy sye en sy ogies styf toegeknyp.
Ek tree vorentoe om hom te gryp, maar dan kyk ek skielik op en reguit binne-in die groot, verskrikte bruin oë. Ek vries half en ons beloer mekaar vir 'n paar oomblikke in doodse stilte. Man tot man. En, heel onverwags, ... 'n groot "smaail" gevolg deur 'n "Môre, my baas!" Ek huiwer, wik en weeg so bietjie ... en dan, voor ek myself kon keer, grom ekself "Môre", stoot die hangkas met een beweging terug teen die muur en volg my stewels se haastige tree weg uit die kamer.
"Ag, fokkit" dink ek laggend, "betreding is ook nou nie só ʼn groot misdaad nie en iemand moet seker die ander se kiste oppas."
Die punt van die storie? Ag, ek weet nie. Maar dit bring na al die jare nog steeds 'n glimlag na my gesig ...
Oom Daan


