Drie-en-vyftig jaar geleë, lank voor mislukte-mislikte huwelike, veeleisende stiefkinders en prostraat operasies, het jy eendag omgekyk.
Dit was kwartaal-eind.
‘Joachim Kloppers van die Standerd 9A klas het die Transvaalse skole skaakspan gehaal; kom ons gee hom almal ‘n hartlike handeklap’
Die puisies kon nie die skaamblos wegsteek nie. Ek het my kop laat sak.
Die snedige gegiggel, begelei deur sarkastiese handeklap het geklink soos ‘n swerm woedende bye. Iemand agter my, seker een van die orige matriekmeisies, het my kroesiehare laag teen my nek gepluk. Ek het verbitterd weggepluk en my kop gelig.
Tussen die geskertsery en rondstampery het ‘n enkele standerd Ses gesiggie omgekyk.
Reguit na waar ek staan. So asof jy geweet het. Van my. Ek, een van die skool se onsigbares.
Jou skraal lyf het bo die ander uitgetroon. Groot, donker oë onder die pikswart kuif het stil na my gestaar. Daar was iets anders as jammerte. Dit kon ek sweer.
Na skool was daar ‘n briefie. Op my dikwielfiets vasgeplak.
Dit was geteken R.
Dit het gelees ‘Baie geluk Joggie. Ek hou van jou’.
Jy het geweet waar ek in die saal gestaan het.
Jy, een van die weiniges, het geweet wat my noemnaam was.
Jy het nie geweet dat ek die volgende kwartaal in ‘n ander skool sou wees nie.
Hannes Steyn


