Bokomo-brekfisbrief; 11/08/09: My pa se tweede asem

  • 0

My pa is sewentien jaar ouer as sy girlfriend. Sy’s 'n pragtige, stylvolle dame wat maar ses maande terug in die aftreeoord se woonstelle ingetrek het. My pa bly alleen vandat my ma drie jaar gelede oorlede is.

Vir iemand van sy ouderdom is hy ongelooflik. Hy’t vir ons soos 'n stout seun vertel van die tannie wat so oulik is en wat so goeie geselskap vir hom is en toe ons weer sien het hy saam met haar en haar kinders op 'n seevakansie gegaan. Net 'n maand terug het hy nog self plaas toe gery met sy ou bakkie en sy brein is vlymskerp. Hy het 'n baie positiewe uitkyk oor homself en sy lewe, maar oor alles anders kan hy aangaan sonder einde. As hy eers op dreef raak oor politiek en hoe die land agteruitgaan en die misdaad, kan niemand 'n beurt kry om iets by te voeg nie. As Oupa praat kry niemand 'n beurt nie. Hy lees immers al die koerante en nog tydskrifte en boeke ook en is op hoogte! Ons het gewonder of hulle nog met hom gaan vriende wees na die vakansie, maar alles het goed gegaan.

Hy kan tog so opgewerk raak oor al die oumense wat net so sit en niks doen nie. Hy’t 'n hele tuintjie voor sy stoepie en sy pronkertjies rank al kophoogte. Hy stel belang in 'n wye verskeidenheid onderwerpe en het 'n uitgebreide kennis van minerale en mynbou.

Toe begin Oupa hoes … en hoes … en hoes, hy raak kort van asem en vir die eerste maal in sy lewe moet hy hospitaal toe. Ek’s net bang hy gaan dood sonder dat hy sy eerste agterkleinkind wat in Februarie moet lewenslig aanskou, kon vashou. Toe hy hoor Dr Skosana is die internis wat hom gaan behandel, het hy net vir 'n sekonde geaarsel en besef dis die nuwe Suid-Afrika hierdie en dis hoe dit is.

Nou kyk, as jy daar by die hospitaal ingestap het hierdie week, sou jy dog dis die Olivedale-hotel. Dis 'n geskerts en gekuier. Watwou siek!

Vandag toe ek hom gaan haal het hy elke verpleegster en suster by die naam geken, hulle elkeen gaan groet en soos 'n ou vriend afskeid geneem. Ek dink nie hulle gaan hierdie pasiënt gou vergeet nie!

In die motor wys hy my sy aantekeninge. Hy het boek gehou van alles wat in die hospital gebeur, hoe laat die fisio en dokter elke dag daar was, hoeveel sy bloeddruk was en watter behandeling hy ontvang het.

Daar’s nie 'n kans dat hulle ons kan vra vir dienste wat nie gelewer is nie.

Naby aan die aftreeoord toe hy nou weer goed op dreef is oor al die slegte dinge in die land, vra ek hom wie dink hy was die beste Afrikaner-leier wat ons ooit gehad het. Paul Kruger, Gen De Wet, Smuts, MT Steyn, of een van ons Eerste ministers of Presidente?

“Ag nee wat,” seg hy, “hulle was almal nou vir jou 'n klomp dom ploerte!”

“Dink pa rerig so?”

“Ja nee, as hulle 'n bietjie visie gehad het en vooruit gedink het sou hulle nooit dinge so laat uitdraai het nie. Hulle sou die swartmense nooit 'n goeie opvoeding ontsê het nie. Ons kon 'n werklike sterk land gewees het.”

“Nou wie dink pa was die beste leier ooit in Suid Afrika?”

“Ag as ek nou regtig moet sê, sekerlik Mandela.”

Uit die mond van 'n sewe-en-tagtigjarige man, met 'n tweede asem.

Vega  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top