Bokomo-brekfisbrief; 11/08/08: Antie J

  • 0

Gebore om ʼn oujongnooi te wees. Vol stront, snaakse idees oor alles, lief om te argumenteer, veral met mense wat nie met haar saam wou stem nie (wat basies almal was). Sy't die sentrale geoperate, jy weet, die nommer asseblief soort. Haar lewe lank. Sy’t geleer om ʼn nurse te wees, maar moes na die oumense omsien en op SO was daar nie ʼn pos vir haar nie, toe gee die poskantoor haar maar werk. En dit is waar sy maar gebly het, want hulle het goed betaal daardie jare, en mens kon mos maar nie ʼn fout maak met die poskantoor nie. Hulle het mos mooi agter hulle mense gekyk. Ek wonder hoe sy met haar kort humeur die geskel van sommige kliënte kon hanteer, want so vol stront soos sy was, so kort was haar humeur. Seker dié dat sy soos ʼn ketting gerook het. Courtleigh. Die lang dunnes. Tog het almal van haar gehou, want sy’t ʼn hart van goud gehad onder die harde mondering.

Sy het haar nooit aan mans gesteur nie, buiten dalk hier en daar ʼn date wat ook maar op niks uitgeloop het nie. Omdat sy ook maar aan die gesette kant was, het dit ook dalk nie veel gehelp nie. Ek onthou nog die vakansies as ons al die pad per trein vanaf Botswana gekom het om vir ouma en oupa te gaan kuier. Ek lees die mense hier se walging vir die tante-soene en ek verstaan wat hulle sê, maar antie J het jou so in haar groot boesem toegemaak en so drie, vier keer gesoen. Lekker tante-soene. Jou hele gesig vol. En sy het altyd so lekker geruik, iets tussen ʼn moeder en blomme. Vars blomme.

Daardie vakansies onthou ek soos gister, dalk omdat die bederf so groot was, of dalk omdat sy soveel liefde uitgedeel het. Mens kon sommer sien hoe verlang sy na ʼn kind van haar eie. Ek het aanvanklik op skool goed presteer, deels omdat Pa ons mooi beduie het wat sal gebeur as die punte nie goed lyk nie, maar ek dink die eerste rede was die omkopery, want sien, sy’t altyd iets belowe as ons goed sou doen. Die eerste omkoopgeskenk was ʼn pellet gun. Watter jong knaap het daardie tyd dan nie van sy eie pellet gun gedroom nie? Haar grootste belofte was dat, as ek matriek met onderskeidings sou slaag, ek en sy Oberammergau toe sal gaan om die Passiespele te gaan kyk.

So het dit maar jaar-in en jaar-uit gegaan. Sy, oupa, ouma en haar hanskind wat sy maar vir iemand anders grootgemaak het. Sy was later die een wat oupa se oge toegedruk het en hom gewas en geskeer het. "Want Dedda was verskriklik skaam, hoe sal hy voel as vreemdelinge hom dan nou moet beskou, so na sy dood?" Ek wonder tot vandag toe of die lyksbesorgers nie tog maar vir oupa gesien het so in sy ongemak nie.

En toe kom die groot skok: Eendag uit die bloute bel sy en vra of sy maar kan kom oorslaap vir ʼn aand of twee, want sy kom vir haar ʼn man haal. Nou, hierdie stukkie nuus was amper soos ʼn doodstyding, net so onverwags.

Dit kom toe uit, een van haar vriendinne het haar by Landbouweekblad of Keur of iewers se hoekie vir eensames ingeskryf. Hulle het goed bedoel, want daar moet tog ʼn deksel iewers in hierdie land vir Antie J wees? En so vry die twee so oor die foon en per brief tot dit later lekker vetterig begin gaan en die tweetjies eenvoudig moes bymekaar kom. Sy was in die wolke, want M het ʼn plaas of twee, ʼn vervoerbesigheid, en wie weet wat nog gehad. Een van F’ville se vername manne. Nie te onaardig van gesig nie, het so bietjie in die bottel gekyk, maar nie meer as die normale kroegvlieg nie, nie gerook nie (en het nie gemind dat sy deur twee pakkies ʼn dag is nie), en het op die oog af goed gelyk: tien vingers, tone ens.

En ja, so is die twee gekerk. Hoekom die gevaarligte nie begin flikker het voor die tyd nie, sal nugter alleen weet, maar die liefde is mos maar blind, seg hulle (En stokhoringdoof, as jy my vra!). Het ou Langenhoven nie hoeka gesê "Trou is nie perdekoop nie, dis eerder perde ruil, want beide steek maar die foute en gebreke baie goed vir die ander weg"?

Kort na die lekker maand kry ons die tyding: Antie J staan op skei.

Die volle waarheid lê steeds by haar, maar ons het so hier en daar agtergekom wat nou presies aan die gang was: M was so arm soos ʼn kerkmuis. Maar meer nog – hy het antie J se ou spaargeldjies feitlik oornag omskep in groot skuld. Hy wou nie werk nie (gelukkig het sy nie haar job gelos nie) en het heeldag terwyl Antie J moet “Nommer, asseblief?”, die dorp se mense onthaal, duur geskenke vir al wat leef gekoop, homself letterlik bederf op haar ou spaargeldjies. Tot die dag wat die bankbestuurder haar laat kom. Want hy wou weet hoekom haar rekening nou skielik diep in die rooi is.

En toe ontplof sy. Binnetoe. Hulle sê sy’t nie eens met hom baklei nie. Sy't Cookhouse toe gery en ʼn treinkaartjie gaan koop. Tuis gekom, het sy sy kaste leeggemaak en sy tasse pynlik netjies gepak. Ouma sê sy het selfs vir hom ordentlike padkos gemaak, en haar eie flask saamgegee met warm koffie vir die dors. Met sy tuiskoms het sy vir hom gevra of hy reg is, sy't ʼn verrassingstrippie gereël en sommer als klaar gepak, hy moet net klim as dit oukei is.

Ek dink op pad Cookhouse toe moes sy seker ontplof het, maar dit is bespiegelings en sy praat nie uit wat in die motor gesê is nie. Antie J het boonop die hele aand saam met hom gesit en wag tot die trein opgedaag het. Dalk was dit maar haar regverdigheidsin – ek weet nie –, maar ek dink sy het maar net seker gemaak dat hy wel opklim.

Sover ek weet het sy nooit weer van hom gehoor nie. Ek twyfel ook of hy weet dat hy darem een goeie daad verrig het: Hy't vir Antie J ʼn pragtige dogter nagelaat.

Ek het maar die Oberammergau-storie net so gelos, al was dit ʼn belofte. Sy het nou iemand anders gehad om tot in die grond in te bederf.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top