'n Mens sou dink 'n moeder sou van beter geweet het as sy haar kinders name gee, maar nie in hierdie geval nie. Herrie en Herman is nie legendes of bekend omdat hulle die nuutste kuur vir verkoue uitgevind het nie. Hulle is bekend omdat jy hulle altyd langs die pad sien. Herrie en Herman is 'n tweeling. Nie identies in aansig nie, maar identies in optrede. Of nee, identies in hoe 'n mens na hulle luister. Want jy gaan nie kop of stert uitmaak as jy hulle langs die pad kry en rigting vra nie. Dis nie dat hulle nie weet waar hulle is nie, dis net die woorde kom nie lekker uit nie.
Hulle sê daar het met die geboorte iets fout gegaan, want die gene is goed (die oupa was immers 'n landdros). 'n Mens kan nie die voorgeslagte vir 'n kraak blameer nie. Moeder Francis het so 'n jaar of tien gelede 'n paar miljoen by 'n vergete suster iewers in Skotland geërf. (Hulle sê mos dat elke mens ten minste een keer in sy lewe sal ervaar hoe dit voel om nie te sukkel nie.) Die mense sê dat net die juwele genoeg was om vir 'n lang tyd te oorleef. En oorleef het hulle, want van die eertydse armoede en brood en polony het hulle nou kafeekos en hamburgers geëet. Hulle sê die kosboek was in 'n stadium by die R60 000. Nie Herrie of Herman het verder as Sub A gekom nie. Hier na die derde jaar het selfs die onderwysers moed opgegee en Gods water maak oor die akker laat loop.
Herrie is die "voorbeeldige" ene. Hy is die ene wat kerk loop. Die mense sê dis nie oor die "Blye Boodskap" nie maar eerder om die nuutste weduwees uit te kyk. Ek sal nie kan sê nie. Annerdag, so vertel hulle, moes dominee hard loop praat want Herrie is net te knaend by die vrouens wat nog moet treur. Hy loop klop sommer aan. As jy so deur Oesterland deurjaag op pad na nêrens, let bietjie op vir die man wat op die oorbrug staan en elke kar groet ...
Annerdag het hulle hom probeer bad. Hulle het stomme Herrie sommer so met klere (destyds nog met moeder se erfgeld gekoop) en al in die bad gegooi en die vrouens het hom geskrop. Hulle vertel dat Herrie opgehou spartel het toe die vrouens aangebied het om die waswerk te doen. En hier gaan ons die badstorie stop ...
Herman is bedees. Altyd op pad iewers heen. So met die broek saamgevat vir ingeval die ketting die ding dalk vat. Kom klokslag tien oor vyf in vir sy pakkie Voyager, 1 kg hondekos en 'n blokkie fudge. Eers karre opgepas by die Goodshed tot Ramos en Kie besluit het om daardie unieke industrie ook nek om te draai. Nou staan die ou gebou leeg en word dit 'n toevlugsoord vir die sleg-om-te-werk-tipe. Want waar op aarde gaan 'n BEE nou in 'n ou historiese klipgebou belangstel?
Nou "smous" ou Herman maar so saam met Oom Nellis. Die houtkarretjie het toe nie regtig die wins getoon wat die vooruitsigte bepaal het nie.
Gisteroggend het ons vir antie Francis gebêre. Herrie uitgevat in sy enigste blou das. Herman meer modieus in pienk. Die twee verstaan soort van dat die ou matriarg ook nou weg is. Ons moes maar verduidelik want die dood is iets wat mos maar eers later van tyd behoorlik insink.
Maar wat hulle nie verstaan nie, is hoekom hulle nou moet weg. Want suster is gatvol van omsien na die twee. Hulle moet nou hul kamer ontruim. Die ou mense sê dis tipies: Sy't net gewag tot die ou vrou ses voet onder lê, toe gee sy die twee trekpas. As ek nie soveel agting vir die vroulike spesie gehad het nie, sou ek haar self aan haar gorrel loop gryp het, maar nou moet ons maar sorg dat die twee darem elke dag versorg is en 'n bord gekookte kos kry.
Nee, die weduwees loop draaie. Ons gee maar die twee oor so van huis tot huis.
Na die begrafnis is Herman weer hier vir sy fudge. Pienk das nog aan. Hy lig sy vinger en ons weet hy beduie vir sy Voyager. Ons praat oor dominee wat sy moeder so waardig weggesien het. Ons beduie dat sy darem 'n spoor getrap het, al is dit nou net hierso. "Sy sal onthou word." Hy knik sy kop en klim op sy fiets asof ons van net nog 'n vreemdeling praat. Sy boetie staan in elk geval reeds en waai vir die karre op die N2.
oester


