Bokomo-brekfisbrief; 11/06/08: Skaappaaie na die Wintersveld

  • 0

(… dan soek ek in die maanlig al die mooiste plekkies uit waar ek kleiosse gemaak het as ʼn kind.
Toon van den Heever: IN DIE HOËVELD)

Runderpes en ’n tweede vryheidsoorlog, net voor die sprong van eeu agtien na eeu negentien. Daarna mynstakings, met Johannesburg nog in die kleuterskool en ’n wêreldoorlog oorkant die waters, nie so blinkend en bly soos die ou gesangversie uit die jare dertig van die vorige eeu en millennium nie. Toe kom die groot griep van 1918 - wat nog? Die droogte en depressie van 1933 met gevolglike verstedeliking van veral die Afrikaners en die aanbreek van die armblankeprobleem wat deur Vader Kestell met die Reddingsdaadbond uit die as gelig is. Toe weer ’n wêreldoorlog in daardie spanningsvolle Nat en Sapdae, toe die erfgenaam van Bloukop ook gebore is. “A real little Samson” het oubaas TW Beckett hom by aanskoue genoem. Die ou koffiemagnaat was juis vir die geboorte van sy kleindogter in dieselfde tyd, op die familieplaas naby Morgenzon.

“Little Samson” het nooit broers of susters gehad nie vanweë die moeilike geboorte wat sy moeder nouliks oorleef het. Alleenkind, dromer, boekwurm. Skryf fantasieë agter op ou koeverte of stukke karton, en teken verbeeldingsvlugte tussen swaeltjies wat in die voorwinters noordwaarts vlieg, en vir dae saamdrom op telefoondrade soos swart musieknote op lyne van ’n stuk bladmusiek. Hulle trek is ook die teken vir die jaarlikse groot skaaptrek berg-af, winterveld toe.

Maar ook feitelike indrukke het klein “Samson” aangeteken, onsamehangend soos ’n kind. Vir wat, vir wie? Niemand sou toé weet dit is vir later, vir sy terugverlangjare, lank na die ou plaasmense al dood, en ou boerderypraktyke al gestaak is nie. Iets wat sy kindergemoed ontroer het, was daardie jaarlikse trek met die skape af wintersveld toe. Nooit het dit in sy kindergemoed opgekom om te vra waarom net die ryk boere van “klein Engeland’ wintersveldplase onder die berge besit, en sy pa-hulle nie. Toe hy groter word het sy pa self vertel dat Bloukop tydens die Engelse oorlog teen die Boere, afgebrand is en die vee alles weggevoer of met bajonette doodgesteek. “Maar die Sappe van vandag, se plase is nie afgebrand nie. Hulle kon ook hulle vee behou omdat hulle `joiners` was of Engelse simpatiseerders. Die gronde by Kalkoenkrans af onder die berge, kon hulle daarna maklik koop.” Daar was ’n effe bitter trek om sy mond, maar die sappe was ma se familie. Hy het nie maklik daaroor gepraat nie.

Later, in die jare 2000, het “little Samson” teruggegaan om te kyk tot watter wasdom sy kinderindrukke geryp het. Name het hom veral opgeval; De Emigratie, Zo-als-hy-lyk, Minera, Tweedronk, Uitspaning, Hogekraal, Beginderlyn. Laasgenoemde was die onsigbare lyn tussen die onbewoonde koue hoëveld, en die warmer eskarp af Swaziland se kant toe. Die lyn tussen hulle, was deur die wit pioniers op die koue vlaktes wes, sowel as die Swazi's, oos daarvan, eerbiedig. Swazi-werksoekers het met eerbied en ’n tans vergane protokol daar oor gekom om werk te soek op die vooruitstrewende boereplase. So goed was die verhouding, dat die Swazi-koning later die “Klein Vrystaat” vir ’n aantal boere geskenk het aan die suidekant van sy land, om juis ’n buffer te vorm tussen Swazi's en Zoeloes. Die Mfekana stamoorloë was nog nie uitgewoed in Afrika nie, en die jaar tweeduisend se xenofobie is dalk ’n renaissance daarvan.

So dink “Samson” - lank nie meer ‘little” nie. Hy onthou Kalkoenkrans. Die honderdjarige oom Piet Jacobs het vertel hoe hy in sy kinderdae by wyle oom Steven Powell, wat ook oor die honderd jaar oud was, verneem het dat die pas se naam geneem is van die wilde kalkoenibis, “bald ibis” wat daar hulle broeihabitat het. Oom Steven was ’n Skot wat oorgeloop het en aan Boerekant geveg het teen die onreg van die Engelse besetting. Hy is na die oorlog met ’n Boervrou getroud, ’n nooi de Jager. Hy het Afrikaans ten volle verstaan maar dit nooit gepraat nie, slegs Engels, tot die dag van sy dood.

“Samson” onthou toe ook mense se name. Een veral, dié van oom Koos Coetzer, ’n vrygesel, met sy sweetvos wat vir een van die ryk boere van “klein Engeland” geboer het, en die jaarlikse trek berg-af namens almal hanteer het. Hy het die skaaptroppe so twee myl uitmekaar gespasieer om motorverkeer nie te ontwrig nie. Vooraan elke trop was ’n donkiewa. Osse het nie gedeug nie, hulle loop te vinnig. Donkies bly presies in pas met die skaaptrop. Op die wa was die drywers se kooigoed, en kos en ook ’n paar bale voer vir skape wat uitsak en opgelaai moes word.

Daar was oral langs die trekpad amptelike staatsuitspannings waar die trekke kon oornag. Daar het die twee tienjarige nefies “little Samson” en klein-Doors, hulle eerste ondervinding van slaap onder ’n donkiewa gehad by ’n vuur met die reuk van papaanbrandsel of skoko, en die aardse reuk van lanolienolie naby in die rustende merinos se vagte. Die stories van die Swazi- en Zoeloe-drywers was meer as net onderhoudend. Samson het dit begin aanteken. Die twee seuns het graag hulle toebroodjies met appelkooskonfyt verruil vir die drywers se krummelpap en kaboe-boontjies of `dloeboes,` ’n blouerige soort inheemse grondboontjie net so in soutwater gekook en in ’n doek toegebind om winddroog te word en ’n ronde pastil te vorm, Heerlik! Oom Koos het op daardie skof van die trek, elke jaar by Samson se ouers in die stoepkamer oorgebly vir die nag. Ook hy het die wonderlikste stories oor avonture op die trekpad vertel. Luiperds in die laeveld, jakkalse snags, vandaar die geweersak aan die saalklap langs sy sweetvos se flank, so ’n mooi goudbruin sak van egte leer met ’n wonderlike geur . Hy het juis aangebied dat Samson en klein-Doors so drie dagreise ver tot by Kalkoenkrans saamry, van hulle nou penkoppe geword het. Hulle perde moes saam, want na drie dae agter die skaap, sou dit hulle te perd slags maar ’n paar uur neem terug Bloukop toe. En so is die twee toe saam.

Nostalgie laat die oue Samson langs die skrikwekkende stuk teerpad tussen Amersfoort en Ermelo stilhou, nadat hy by die egte outydse plaaswinkel met die naam Uitspanning, en sy stoep onder ’n sink afdak afgedraai het, om na die Paul Krugerbrug te gaan kyk. Dit is ’n gekapte sandsteenbrug oor die boloop van die Vaalrivier, en ’n nasionale gedenkwaardigheid. Hy glimlag wrang as hy wonder of jonges van die jaar 2008 sal weet wat ’n uitspanning is, maar dis goed dat die naam voortleef in die winkel.

Hy kyk oos, sien die pêrelmoer skakerings van die oggendlig in spel met die malende miswolke wat van onder die berge bo oor die platorand kook. Net soos die roke destyds, onthou hy. Roke van die grasbrande onder die berge as die boere hulle winterveld skoonbrand vir die nuwe seisoen se groei en die volgende voorwinter se trek. Dan was die hoëveldlug by Beginderlyn en Bloukop naby die eskarp, vir dae dynserig van die soetruikende laeveldgras se rook, as die wind wes waai.

’n Kolelorrie wat drie ander probeer verbysteek, tref ou Samson so byna-byna, veral toe hy moes uitswaai vir ’n reuse krater in dit wat van die teerpad oorgebly het. Is dit waarheen “ontwikkeling” lei? Is ons nie al oor die punt van versadiging nie, dink Samson. Met hierdie vragverkeer oppad Majuba kragstasie toe, gaan ek sukkel om self weer op pad te kom huis toe.

Johann de Jager

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top