Vega se brief het my laat dink aan my eie paadjie wat ek met my skoonma geloop het. As ʼn mens pasgetroud is, is dit mode om van jou skoonma te skinder en by jou vriendinne gal af te gaan oor skynbare onversoenlikheid tussen mammie en die "nuwe mammie van haar seuntjie."
So het ek ook met vooroordeel my skoonma van ʼn afstand af betrag ... eers versigtig en toe meer uitdagend. Wat ʼn verrassing het vir my gewag! Hierdie vyand nommer een waarmee ek moes wedywer om haar seuntjie se liefde, blyk toe ʼn absolute juweel te wees!
Ek is ʼn hardekop en sy ook, maar om een of ander rede het ons dit nog altyd reggekry om mekaar te systap soos kapokhaantjies en dan albei eerbaar die aftog te blaas. Die moontlike geheim vir ons sukses is wedersydse respek en natuurlik lippe vasbyt as ietsie onguur wil uitglip.
Met moedersdag wil ek hulde bring aan ʼn wonderlike, humoristiese vier-en-tagtigjarige vrou wat ʼn diep merk in ons lewens gemaak het. Haar sêgoed het al deel van ons gesinswoordeskat geword en net óns sal verstaan waaroor dit gaan. Ten spyte van haar ouderdom kook en bak sy nog enige gourmet-kok onder die tafel in. Neem haar na ʼn snuisterywinkeltjie met oudhede en sy gaan van opwinding tekere soos ʼn klein dogtertjie! Niks ontglip haar oë nie en jy steek vergeefs hartseer of pyn vir haar weg.
Ek kan nog boeke vol skryf oor haar, maar een ding staan soos ʼn paal bo water, sy is nié ʼn skoonma nie, sy is vir my ʼn eie ma.
Al sal jy nooit hier lees nie - dankie, Mams!
Groetnis
Perdebytjie


