My prediker my hoogleraar in fiksie het my gewaarsku
teen vrypostige voëls wat op niksvermoedende koppe kom kak
in die skadu & skuilte van bome
& inbreek op die orde om nes te skop in ’n strooikop-
vlieg voëls, loop & swem voëls
gek(lik), dwaas, getik, in die bol gepik niksbeduidende
raas voëls, aas & baas voëls
klaar die heil by kerktorings ingewag,
klaar gesuf voor selfbeheersde buddhas
wat bid & bewe soos vet kerse voor die sondesmous.
Penningmeester speel is grieks vir my,
ek het tyd gekoop
& diens my dividende met sentimente:
helfte vir my helfte vir die repeterende res
vrek die perpetueel pendulende lot
leë hande van vredeliewendheid
tussen kettingwinkels & glo-bla-bla-bla-liseer die pes.
Ek sal opsteek brandsteek doodsteek vir my
a. Doel b. Vryheid c. Huiseienaarskap.
Ek het my eie vierskaar voëlverskrikkers prakseer:
die waterdraer kyk noord & skil die oë van ’n waterslang,
die landbouer spit die weste in,
die maaier neem die sekel op in die suide,
die saaier bring distels & dorings tot die ooste.
Heil die landhere van afwagtende grafte
die opsigters van stof,
die giergode sat van goed
onderskryf deur ingeteelde venstermannekyne.
Memeseer die massas met misse!
Die serienommerpas-bekwaamde fratse moet dans vir die sweep,
laat korale die ritmiese prosessie van volhoubare verval begelei
as nog heilige woorde van geen antwoord se vernis afdop.
Adriaan

