Ek en Patience, my nuwe, 40-jarige huishulp en ma van sewe, staan in die kombuis en praat terwyl ek vir die langnaweek se kamp beskuit bak. Sy vertel van al die mense vir wie sy al gewerk het. As ek 'n skrywer was, kon ek sowaar 'n Katriena- of Poppie-boek geskryf het, want sowat van stories het ek nog nie gehoor nie. Toe sy sê dat sy nou nog die Jirre vra om haar te vergewe vir die groot lieg wat sy moes lieg om uit die hogere AN-vrou se huis te ontsnap, weet ek hier kom 'n storie.
Veertien jaar gelede hoor sy van hierdie wonderlike job wat R5 000 per maand sal betaal. Die werk was in Bloemfontein. Sy moes net met die Greyhound-bus van Joburg station na Bloem toe ry - hulle sal haar by die busstop kom oplaai. ‘Mevrou, ek het geprobeer slaap oppie bus, maar daar's koelies en witmense en swartmense almal op daai bus! En daar's 'n radio vir elke mens!'
Daar gekom, laai 'n drywer haar op. ‘Mevrou, ek het 4 uur die middag op daai bus geklim, ons kom die volgende middag op Thaba Nchu aan en ons ry tot op 'n plaas. Ek sien die grootste huis, met baie karre, four-by-fours en Mercedesse en die huis hy't baie kamers, met ene vir my. In my kamer ek het 'n TV, maar in die aande ek was so moeg ek val net op die bed van moegheid.'
Sy vertel van die 59-jarige vrou wat hoog op was in die ANC en van al die vergaderings en besoekers aan die huis en hoe hard sy moes werk, van halfvyf in die oggend se opstaan, koffie en ontbyt wat sy moes bedien en van die groot spens wat vol houers en houers kos gepak was. Sy vertel van die yskas wat 'n hele muur beslaan het en van die kroeg vol drank. ‘Ek sê vir die vrou ek kan nie kook nie, maar sy sê as ek kak kos by die huis kook, ek kan daai kak kos hiesô vir hulle kook ... Mevrou, ek het in my hele lewe nog nooit so baie klere en skoene in een mens se kas gesien nie. Hulle lewer lang stokke vol klere op een slag af. Die skoene, hulle dra bokse en bokse skoene in en vat die oues weer saam."
Geeneen van die werknemers mog ooit die vrou se 32-jarige man gesien het nie. Hy was skynbaar 'n apteker en volgens Patience wou hy nie veel met die politiek te doen hê nie. Daar was interkoms in die huis en hy sou dit gebruik om met hulle te praat as hy iets wou hê, dan moes hulle dit iewers vir hom neersit.
Na 'n maand van ongenadige lang ure en harde werk ontdek Patience dat al die vorige huishulpe in so haastig daar weg is, dat hulle klere en komberse in 'n kas gebêre word. Sy wil toe nie ook in die nag wegsluip nie en moes toe maar 'n leuen versin om daar weg te kom. Sy het vir die man gesê dat haar kind siek en in die hospitaal is. Ek dink hy het besef wat aangaan en vir haar vervoer huistoe gereël. Sy het net R1000 gekry. Die vrou het haar belowe as sy terugkom, kry sy die res.
Ek vra haar wie die vrou was. Sy sê vir my, ‘Djy glo my nie, ek sê vi jou daai vrou sy naam was Granny Mokoena, ek lieg nie.'
Ek Google die naam en sowaar as vet, sy is jare later soveel keer van bedrog en rampokkery aangekla dat ek wonder of sy nou al in die tronk sit. (Of miskien op die lys van ANC verteenwoordigers is?) 'n Mens kan net jou kop skud.
Patience vertel en beduie so dat haar selfoon in die skottelgoedwater beland. Ai, sy wens skielik sy het 'n salaris van R5 000 ...
Vega


