Ja, liewe Melt, om terug te keer na die plekke van jou jeug is maar ʼn moeilike storie. Sheila Cussons het geskryf: "Het al my paadjies toegegroei?" Inderdaad, die paadjies wat jy as kind deur grasvelde en stofpaaie deurgeloop het, het toegegroei. Dis weg.
My ma het op ʼn plaas in Lutzville gewoon, naby Namakwaland. Sy is tien jaar terug dood en ek was nog nooit weer terug om haar graf te besoek nie. Dis ʼn lang pad uit die Kaap. Nou onlangs het ek die pad Namakwaland toe gevat om blomme op die graf te sit.
Dis ʼn rooiwarm wêreld, die sand is ook rooi en die windpompe trek met moeite die laaste bietjie water uit die aarde uit. Toe ek deur die dorp ry, toe besluit ek om na die stasie te gaan kyk. Hier het sy my elke skoolvakansie kom haal.
Ek onthou dit nog soos gister. Doer ver lê die stasie soos die trein nader kom, met my ma wat veraf waai van blydskap. By die stasie aangekom het ʼn menige klomp mense afgeklim; daar is gesoen, gedruk, gelag.
Die reuk van vars spoorwegkoffie het in die lug gehang. Ek onthou ook daardie rooibaksteenspoorweghuisies. Ek was mal oor hulle, tot vandag toe. Die rit was lank; ʼn hele nag en nog ʼn oggend.
Toe ek nou weer by die stasie aankom, toe is daar niks. Die trein ry nie meer soontoe nie en alles was vervalle. Hope, amper heuwels sand het oor die spoorweglyn gelê. Dit was doodstil, met net die wind wat aangewaai kom oor die kaal vlaktes. Dit het my teen die bors geslaan, hierdie onverwagse dorre eensaamheid.
Ek het skielik so verwese gevoel. Daar was niemand op die vernielde perron nie. Die rooi huisies was leeg, met deure wat in die wind klap. En dan die wit hitte wat op hierdie verlatenheid bak.
Ek is terug na my motor, oppad na my ma se graf. Sy is net buite Lutzville en Koekenaap begrawe, in ʼn begraafplaas met die naam Kleinplasie. Om daar uit te kom moet jy oor groot klippe en ʼn growwe gruispad ry.
Die begraafplaas is in die middel van niks; niemand, nêrens nie. Daar is ʼn windpomp wat raas in die agtergrond. Toe ek na my ma se graf begin soek, kon ek dit eers nie kry nie. Weer eens die sand, die rooi sand van die woestynlandskap.
Die hitte wat op die swart grafstene brand. Ek moes mooi soek en uiteindelik het ek haar graf gekry. Met my kaal hande moes ek die sand van die graf afvee. "Hier lê Maria Jacoba Elizabeth Lategan, oorlede 6 Junie 1999."
En ek het langs haar graf gaan sit, die sweet van my voorkop afgevee en vir ʼn oomblik het ek my verbeel: ʼn trein wat veraf fluit en ʼn vrou op ʼn perron wat vir haar kind waai.
Herman Lategan


