Bokomo-brekfisbrief; 11/01/09: Weerbarstige Jongelinge

  • 0

 

 

“The time has come, the Walrus said, to speak of many things – of ships and shoes and ceiling wax, of cabbages and kings.”

Aljimmers dink ek aan hierdie aanhaling uit Alice in Wonderland as ek oor dinge wil praat waarvan ek eintlik geen idee het nie. En nou gaan die dowwe onderwerp oor my kinders en hulle se vriende; veral op seevakansies. Hierdie vakansie is, Goddank, besig om einde te kry.

Gesonde gesinsaktiwiteite hier teen die kus maak my naar. Soos byvoorbeeld visvang of ‘dune boarding’ of Mola-Mola-toere in die baai of gewone ‘ons-gaan-kuier-vanaand-in-die-duine’ of soos in ‘sleep-die-kinders-teen-die-laagwaterlyn-op-’n-tyre-al-agter-die-bakkie-aan’ en asseblief net nie enige ander 4x4- of duineklim-aktiwiteit nie.

Hoekom elkeen nie net in sy eie hoekie kan sit en ’n boek lees nie, verstaan ek glad nie. Hulle kan selfs Monopoly, Thirty Seconds, Poker of Pictionary speel. Dit gaan my verstand te bowe dat hulle - wat eintlik die kinders in die verhaal is - vermaak moet word. Hardloop mens nie dan in alle geval die ganse jaar deur agter hulle behoeftes aan nie? En hoekom moet die etters op vakansie vermaak word as hulle rapporte nie eens naastenby dit is wat jy as versorgende, vertroostende, ondersteunende ouer in die eerste plek verwag het nie?

Die verstommend-waaghalsige kanse wat hulle boonop neem om vriende saam te nooi na ons eie persoonlike vakansiehuis is gewoon beyond comprehension. Na dae van al die lawaai en etes en skottelgoed (drie keer per dag en nog tussenin), waterverbruik, telefoonoproepe, ligte en ander elektriese apparaat wat hulle ‘vergeet’ om af te skakel, selfone en garage-deur ‘remotes’ waarmee per ongeluk geswem word, KFC, Steers, Wimpy en DVD-geld (strictly cash) en roomyse by Bonus Mark, sal die jongste klein etterkop die wragtig weet laatmiddag verklaar dat hy ‘bored’ is.

Pappie reageer toe effens hewiger as gewoonlik, beveel hom om te gaan bad oorlat sy hare kompleet lyk soos die van ‘a… orphans and …a… other …a… vulnerable childrens’ en trap hom terstond ook vas omdat kinders oor die algemeen geen idee het van die term ‘konsiderasie’ nie. Dit het my ook sommer lekker opgewarm om die lang bliksem op pad na Graad 12 (net-net gemaak) en sy suster, in ontspanne toestand op ’n laaang universiteitsvakansie, ’n korte paar home truths te vertel. Luigatte!

Moeilik om te glo, maar die trop vriende is skielik ook sommer ultra-beskaafd en heelwat stiller. Een of ander blonde Engelse donsdosie het vir my met ’n vriendelike glimlag koffie met ’n skoot whiskey in gebring. Of sy nou Jo-Anne, Natalie of Tegan is sal ek nie weet nie, maar dis blykbaar ook ’n aartsoortreding om een van die trop se name te vergeet.

Maar wat, met my moeilike-ou-man-sindroom en al, smaak dit my dat die klompie - afgesien van ’n algehele gebrek aan doodgewone outydse goeie maniere - ’n heel ander soort van moraliteit en etiek openbaar as wat ek en my vriende sou toe ons so oud soos hulle was. Hulle praat oor aardverwarming, natuurbewaring, alternatiewe energie, HIV/AIDS en wêreld-armoede. Wat hulle egter op die strand doen as hulle snags gaan rondloop, weet ek natuurlik nie …

Een ding is egter seker en dit is dat hulle musiek nie eers naby kom aan dié waarmee ek deur my eie vormingsjare gehelp is nie. Kort-kort kom vra een my om ’n CD van Bob Marley, Rodriguez of Pink Floyd te download. So ’n fladderende jong ettertjie het selfs nou-nou net kom sê hy hoor ek het die sound track van The Rocky Horror Picture Show ook.

Die arme outjies het net mooi niks om teen te rebelleer nie en hulle lewentjies moet seker maar saai wees in daardie opsig. Seker dié dat hulle in opstand kom teen gewone goeie maniere?

Dannyboy

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top