Voor enigiemand dink dat ek die kluts kwytgeraak het. Ja ek kan sentimeel raak. So met die nersderm langs. Sien, ’n bosluis het my gebyt. Nee, dit maak nie saak wáár die dêm ding my gebyt het nie. Magtag. In alle geval niks met julle uit te waai nie. Dis nou waar hy ...
En dis nie die oorsaak van my sentimentaliteite nie. Die luis van ’n bosluis was ’n siek luis. Met pes onder lede. Laat my met pyne en koorse. En diep onder die indruk van die verganklikheid van die menslike bestaan. Nie dat die koors so belangrik is nie. Ek verduidelik maar net hoekom ek sentimenteel geraak het.
Die kwak skrywe die allerverskriklikste klomp pillerasies voor na ’n deeglike ondersoek.
"Dok, dis my kop wat seer is nie my ..."
"HJ, lê stil ons moet deeglik ondersoek."
"Herre, jy hoef nie so deeglik te wees nie ... hou op vroetel of soen my!"
"HJ, jy het bosluiskoors. Draai jou gat vir ’n spuit. Jy klim innie bed en klim nie daaruit voor jouse liefie sê jy mag nie.
"En wanneer sal dit wees? Eina!"
"Sissie. Sy sal wel weet."
Tuis is myse liefie die ene besorgdheid. Sy verpak my in die bed. En dra flouerige tee en sopperigheid aan. Die bulhonde maak hulle gerieflik aan die voetenent. Sy reken sy gaan vir my iets lekker kry van die winkels af. Kan jy nou meer.
Soos sy haar rug draai strompel ek op na my wynkamer en trek ’n bottel nader. Ek steek dit onder die bed weg. Ek sluk die pille met die whisky af. Baie pille. Baie whisky. Lekker, maar ’n foutjie. Ek weet nie of ek sieker is van die luis of die dop nie. Die kombinasie van koorse, willepille en enkelmout whisky moes seker iets chemies tot gevolg gehad het. Iets wat ’n ontploffing kon veroorsaak. Ek sou die konkoksie aan enige terrie kon verkoop. Selfmoordbommer se moses.
Ek sien gesigte. Myse liefie skrik haar skoon uit haar bedonderdgeit uit. Veel kan ek nie onthou nie. Wel dat ek aan my liefie gefluister het ... "Ek sien snaakse mense" en kon nie ophou lag nie. Die kwak was glo byderhand. My liefie vertel hy het net een kyk gegee en vreeslik geswets oor mense wat nie hulle perke ken nie. Toe hy tot bedaring kom seg hy, hy kan niks vir my doen nie. Maar dat hy vir homself ene sal gooi. Hy waardeer dat dit goeie whisky is.
Met die dat ek later effens tot verhaal kom tref die gedagte van die verganklikheid van die mens my. ’n Doodsbesef soos in Sewe dae by die Silbersteins, soort van gedagte. Ek het eintlik vrede met die idee van ander mense se verganklikhede. My eie is egter ’n ander saak.
Lê ek daar en dink oor wat ek oor spyt is en waaroor ek bly is. Ek is spyt ek was knorrig met sekere mense. Ek is spyt ek was nie knorrig genoeg met sekere mense nie. En ... Kom ek egter tot inkeer en besef dat die dinge waaroor ek spyt is en die dinge waaroor ek bly is eintlik onbelangrik is.
Met die gedagte besef ek dat dit oor die liefde gaan. Ek besef myse Liefie is vir my lief. My bulhonde aanvaar my onvoorwaardelik en is lief vir my. My kinners is lief vir my. Ek sal nou nie so vêr gaan as om te beweer my werkers is lief vir my nie maar hulle stuur darem sms'e vir beterskap en so. Al hierdie besef maak my skoon tranerig. Sentimenteel. Ek dink so by myselwers ek moet onthou om minder knorrig te wees met hulle almal wat so lief is vir my.
Soos die week vorder raak die pille minder en die bottel leeg. Word ek die oggend wakker en voel ’n onrustigheid in my lendene.
"Liefieeee, kom hier!" Sy storm besorg nader. "HJ, wat is dit?" "Liefie kyk hier!"
"HJ, jy is gesond. Uit daai bed uit! Nou!"
Wys jou, die kwak was nogal reg. Die vroumense weet presies wanneer ’n man gesond is.
HJ


