24 Desember 1999. Ek was op pad drankwinkel toe om nog van die sterkste bestanddele vir my verslawing aan te koop. Genoeg daarvan om my hopelik deur te sien vir Kersfees. Ek het vroeg in my lewe leer drink en na my ondervindings in 1975 in Angola, was die gewoonte permanent asof in graniet gegiet. Bykans 25 jaar later en na vele probeerslae het ek gelate aanvaar, dat dit onmoontlik was om weer vry te word van "Bacchus" se houvas op my. Net die dood sou ons kon skei, het ek toe gedink.
Voor my geliefde drankwinkel, op 'n sementbankie het hy gesit. As dit nie was dat hy my op my naam geroep het nie, sou ek hom seker nie eens raakgesien het nie. Ek kan sekerlik 'n boek skryf oor my lewe na daardie dag se ontmoeting - en dalk sal ek nog - maar hier sal ek dit maar kort probeer hou. Tot vandag toe weet ek nie waar hy aan my naam gekom het nie? Hoe hy geweet het, dat die dokter my reeds gewaarsku het dat my lewer binnekort sou bars, as ek nie dadelik ophou drink nie! Snaaks hoe dit my nie toe opgeval het nie, dat hy my heelwat beter geken het as my eie vriende en familie! 'n Wildvreemde man vertel vir my dat ek moet ophou drink en sodoende bly lewe, sodat ek hom op die dag na nuwejaar, op die 2de Januarie 2000 weer op dieselfde plek kan ontmoet? Hy vertel vir my reguit, dat ek hom nie teleur sal stel nie en dat hy daar vir my sal wag, sodat hy my kan help om beheer oor my lewe terug te kry.
Ek weet nie waar ek die krag gekry het nie, maar skielik was dit uiters belangrik vir my om te bly lewe! Om net weer met hierdie onbekende man te kan kom gesels. Ek koop nie 'n druppel drank daardie dag nie!! My vrou en kinders geniet die lekkerste Kersfees ooit, saam met my! Vir die eerste keer in my lewe deel ek geskenke uit met 'n lied in my hart, op Kersfees.
Vir die eerste keer in my lewe gee ek vir my kinders drukkies en soentjies! Vir die eerste keer huil ek van blydskap by die aanhoor van Kersliedere. Iets het verander. Skielik! Sonder waarskuwing! My gesin staan verstom, oor die wonderwerk wat gebeur het!
Vir 3 jaar lank het ek hom tot my beskikking gehad, op die tweede dag van elke jaar. Vir een dag elke jaar, kon ek soveel vrae vra as wat ek wou. Toe ek "sterk genoeg" (sy woorde) was, het hy my laat verstaan dat hy moes aanbeweeg om "nog werk" te gaan doen. Ons het gegroet en daar was geen hartseer in my nie, net die uiterste blydskap. Want, iewers was daar iemand met baie vrae, wat aanstons 'n nuwe vriend sou ontmoet.
'n Vriend met die naam Gilgao.
Die sementbankie staan steeds daar, as 'n stille getuienis van daardie ontmoetings en gesprekke met die besonderse man. En natuurlik het ek nog nie weer toegelaat dat 'n lewelose, willose instrument, my lewe beheer nie. Ek weet mos nou van beter en verstaan nou, wat die doel is dat mense aan sulke dinge verslaaf sou raak. Wie baat daarby sou vind!
Groetnis,
Neels (Husky) Visser


