Ek sien iewers word Obama beskryf as "die nuwe Kennedy".
Liberale Amerikaners se obsessie met JFK was nog altyd vir my effens vreemd. Daar is die romantiek van sy voortydige dood, sy teenwoordigheid in ʼn era van jeugdigheid en idealisme, sy charisma - maar was hy ʼn goeie president? Sy bewind is na omtrent drie jaar kortgeknip. In daardie tyd het hy amper ʼn wêreldoorlog veroorsaak, en die VSA se betrokkenheid in die Viëtnam-oorlog uitgebrei. Wat vrouens betref, het hy die sedes van ʼn straatkat gehad.
Miskien was deel van JFK se bekoring juis ʼn soort vae idealisme, ʼn soort geloof dat beter dae om die draai is. Sy uitspraak "Ich bin ein Berliner" was ook ʼn voorbeeld van meesterlike retoriek - die soort stelling wat nie baie substansie het nie, maar ʼn sterk emosionele appèl maak op sy gehoor.
Obama is eweneens jonk en charismaties. Hy straal idealisme en selfvertroue uit, en dit maak weer die kinderlike optimisme wakker wat so deel is van die Amerikaanse psige. Hy klink soos ʼn charismatiese prediker. Sy retoriek is vaag maar inspirerend vir sy aanhangers. Die Yanks se selfbeeld het hoeka ʼn knou weg na 9/11 en die Bush-jare.
Maar ek kan nie help om te dink aan daardie man(netjie) wat in die 1930s ook sy ryk gebou het op retoriek, charisma en beloftes van beter dae nie. Almal weet watse gemors dit afgegee het.
Obama laat my ook dink aan Jimmy Carter, wat ook deur ʼn vloedgolf ontnugtering met ʼn vorige Republikeinse president ondersteun is. Carter het maar gemengde welslae gehad en moes na een termyn plek maak vir Reagan.
Kortom, ons moet nog sien of die euforie rondom Obama op enigiets meer substansieel as emosie en die behoefte aan goeie nuus gebaseer was. Dit word natuurlik ook aangevuur deur die alomteenwoordigheid van die media.
Gerhard


