Eerstens, ek is dankbaar dat daar so 'n muur opgerig gaan word. Dit is belangrik om diegene te onthou wat 'n bydrae gelewer het om die land te beskerm teen welke bedreiging ook. Tweedens dink ek dat die muur nie die pad moet loop wat die ANC, met ANC-Park, aan die oorkant van die straat doen nie. Daar moet erkenning gegee word aan almal wat geval het. Ek bedoel aan almal. Die name van diegene wat die 'vyand' was, word op ander plekke gemeld, en hoef dus nie weer hier gemeld te word nie. Die oplossing is opgesluit in die siening ten opsigtevan die senotaaf. Net die definisie van 'n senotaaf: "cenotaph - a monument built to honor people whose remains are interred elsewhere or whose remains cannot be recovered, empty tomb."
Ongelukkig is daar polemiek rondom die senotaaf, "Vanweë die simboliek bly hierdie monument se status en rol omstrede in die hedendaagse Suid-Afrika" verwyder aangesien dit 'n waarde oordeel is en waarskynlik eerder op interpretasie as op feite gebaseer is." Ek deel nie die sogenaamde omstredenheid gedagte nie. Ook kan die Voortrekker Monument, wat tog net 'n simbool is se simboliek uitgebrei word om meer inklusief te wees, sonder om die 'heiligheid swaarde' van die Monument aan te tas.
Ek haal weer 'n ander skrywer aan: "Die groot, grys granietkolos is uit alle rigtings sigbaar as Pretoria genader word ... die massiewe Voortrekkermonument, gebou ter ere van die Voortrekkers wat die Kaapkolonie tussen 1835 en 1854 in hulle duisende verlaat het. Die argitek was Gerard Moerdijk en dit was sy ideaal om 'n monument te ontwerp wat as 'n "gedenkteken duisend jaar en langer moet staan om aan die nageslagte die geskiedenis en betekenis van die Groot Trek te verduidelik."
Die gedagte om 'n monument ter ere van al die Voortrekkers te bou, het reeds op 16 Desember 1888 ontstaan, toe pres. Paul Kruger die Geloftedagvieringe by Bloedrivier in Natal bygewoon het. Maar dit was eers in 1931 dat die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK) gestig is om uitvoering aan hierdie ideaal te gee.
Die totale koste verbonde aan die oprigting daarvan was £359,600, waarvan die Staat die meeste bygedra het. Fondse is aangevul deur skenkings, verkope van spesiale seëls, gedenkkoeverte, aandenkings en publikasies. 'n Groot amfiteater is ook in 1949 aan die noord-oostekant van die Monument opgerig, en bevat sitplek vir ongeveer 20,000 mense.
Afgesien van die massiwiteit van die Monument, is daar veral twee elemente wat hierdie monument besienswaardig maak: die historiese Fries en die Senotaaf. Die unieke marmerfries is 'n intrinsieke deel van die ontwerp - in basreliëf beeld 27 panele die verhaal van die Groot Trek van 1835 tot 1852 uit. Die Fries verbeeld nie net die geskiedenis van die Groot Trek nie, maar toon ook die lewenswyse, werkmetodes, godsdienstige beskouing en lewensingesteldheid van die Trekkers.
Die sentrale fokuspunt van die Monument is die Senotaaf. Bokant die Heldesaal is 'n koepel, vanwaar op die interieur van die Monument afgekyk kan word. Dit is deur die opening in daardie koepel dat 'n sonstraal elke jaar op 16 Desember om twaalfuur in die middel van die Senotaaf, op die woorde 'Ons vir Jou, Suid-Afrika', skyn. Die sonstraal simboliseer God se seën op die lewe en strewe van die Voortrekkers.
In my opinie was die Groot Trek tot voordeel van alle Suid-Afrikaners. Daar was Swart, Kleurling en ander persone wat ook aan die Groot Trek deelgeneem het en gesterf het om die Trekker-gemeenskap te beveilig. So het daar verskeie mense gesterf in die stryd, wat as die Grens Oorlog, Bevryding stryd of welke benaming ook gebruik word. Hierdie persone het hulle lewens opgeoffer om Suid-Afrikaners te beskerm.
Die persone wat so gesterf het se name en optrede sal vir ewig en altyd onbekend bly, omdat hulle name en dade nie weens politieke redes bekend gemaak kan word nie. Daar is 'n klein groepie wat as 'spioene' die ANC geïnfiltreer het, en tereg gestel is, gesterf het op ander wyses; of selfs bly leef het maar hulle helde dade nooit erken nie. Hulle name is net bekend aan hulle hanteerder. Hulle het vals name op die stelsels gehad, en hulle ware identiteit kan nooit openbaar word nie. Hulle sal dus vir ewig en altyd onbekend bly. Tog was hulle die dapperste van die dapperstes, en hulle dade en nagedagtenis moet gedenk word. Daar is andere ook, maar laat bogenoemde alleen as voorbeeld dien.
Dink ook aan die groot hoeveelheid UNITA en ander soldate wat ook gesterf het om Suid-Afrika se veiligheid te beskerm.
Ek dink dat die oplossing is om by die gedenk muur op 'n wyse te vermeld dat daar sulke soldate was wat gesterf het, wat altyd onbekend sal bly en dat ons hulle nagedagtenis altyd gedenk sal word. Dat die senotaaf in die Monument wat bekend is as die Heldesaal, ook opgedra word aan almal wie se name op die gedenk muur staan asook aan diegene wat direk en indirek hulle lewens vir Suid-Afrika opgeoffer het, en vir my sluit dit selfs my vyand in die Bevrydingsbewegings in, waarvan sommige lede, hoewel hulle nie die Nasionale Party ondersteun het nie, wel bereid was om verraad te pleeg, omdat hulle teen die geweld van die Bevrydingsbewegings gekant was. Van hulle het informasie verskaf wat baie mense, Suid-Afrikaners van alle kleure en geure se lewens beskerm het. "Bokant die Heldesaal is 'n koepel, vanwaar op die interieur van die Monument afgekyk kan word. Dit is deur die opening in daardie koepel dat 'n sonstraal elke jaar op 16 Desember om twaalfuur in die middel van die Senotaaf, op die woorde ‘Ons vir Jou, Suid-Afrika', skyn. Die sonstraal simboliseer God se seën op die lewe en strewe van die Voortrekkers." Hierdie mense wou ook net vryheid gehad het, 'n strewe van die Voortrekkers, en ek dink met hulle lewe en sommige met hulle sterwe, het ook daardie strewes in gedagte gehad.
Kom ons brei die simboliek van die Senotaaf uit, en dra dit op aan die 'Onbekende Soldaat'. Dit word gedoen deur by die Gedenk Muur net 'n geskiedskrywing te doen, en dan op die kennisgewing te vermeld dat die Senotaaf aan almal wat vir Suid-Afrika gesterf het, ook op 16 Desember gedenk word met die woorde: ‘Ons vir jou Suid-Afrika.'
Die voorstel kan verfyn word, maar op die wyse sal die Monument nie alleen aan die nageslag van die Voortrekkers behoort nie, maar sal dit indirek die eiendom van alle Suid-Afrikaners wees, maar ook die eiendom van Afrika word, en die wêreld; omdat ook onbekendes gedenk word, en wie weet van welke land hulle gekom het, om ook vir Suid-Afrika te sterf?
Groete,
Pieter Reyneke


