Ek ken daardie kruising by Stellenbosch waarna dr Le Cordeur in sy artikel verwys. Ons ken almal so 'n kruising - kruisings waar elke lyf 'n huis verteenwoordig. Soos die kruise langs die pad ons daaraan herinner dat ons paaie gevaarlik is, so herinner elke lyf by daardie kruisings ons aan miljoene verydelde drome in hierdie land. Swart, wit, bruin - oor die hele kleurspektrum is daar drome wat aan skerwe lê. Hoop wat dag vir dag vervaag, en stadigaan die besef dat beloftes goedkoop is. En politieke beloftes, die heel goedkoopste.
Ek weet nie waarom ek die ministers en ander hooggeplaastes kwalik neem dat hulle konvooie nie by kruisings stilhou nie. As ek kon, sou ek ook nie. In hoeveel oë kan 'n mens kyk voordat jou gewete dalk wakker word? En kom ons wees eerlik, in hierdie land is 'n gewete nogal 'n lastige ding.
Ek sal saam met dr Le Cordeur bid dat die onderwys in ons land slaag, want die alternatief is dalk dat ons almal in konvooie sal moet ry.
Wilna Adriaanse


