Bokomo-brekfisbrief; 10/09/08: Die storietjies agter die woord "pompernikkel", Kleinboer

  • 0

 

 

Kleinboer,

Ek het ewe reageer op Swaeltjie se reghelp, en jy is inderdaad reg.

Lummel op Duits het meer dieselfde betekenis as lummel op Afrikaans, maar dit kan ook 'n meer goedige toonval hê soos in "jou stouterd!" Dis nie noodwendig negatief nie. So, ek weet nie juis wat gomtorre en lummels met pumpernickel (Afr: pompernikkel) te doen het nie.

Dis ʼn baie swaar brood wat nie vergelykbaar is met gewone rogbrood nie. Die graankorrels en grof gemaalde graan (wat meestal uit rog bestaan, maar nie uitsluitlik nie) word eers geweek, en dan kom dit in saam met die geursels (sonder suurdeeg of gis) en ander bestanddele in ʼn vorm wat toegemaak word (soortgelyk aan dié van stoompoedings) en dan word die deeg by ʼn lae konstante temperatuur vir een-en-ʼn halwe dag gebak, dus meestal oor naweke wanneer die bakkerye se oonde nie diens doen vir ander soorte brood nie.

Die eerste pumpernickel is in 1570 in Soest, Westfale deur Jörgen Haverlanth gebak, en die bakkery bestaan vandag nog.

Die storie agter die punpernickel is dat dit as noodvoorraad gedien het omdat die brood maklik tot ses maande hou. Destyds was Soest omring deur vreemde gebied beheers of deur die Franse of deur die Habsburgers. Hulle is dikwels maande lank beleër in die Middeleeue. Pumpernickel was dus noodvoorraad vir die mense tydens sulke beleërings as hulle nie uit die stad uit kon kom of vryelik kon handel dryf nie.

Die klein munteenhede van Soest was ʼn "nickel" en "pumpen" - dit beteken om iets te leen of vir iets borg te staan. Dit kon dalk ook iets met die naam van die brood te doen gehad het.

Daar is nog ʼn ander oulike storietjie wat dalk lig werp op jou gomtorre. Oorspronklik het die woord pumpernickel verwys na ʼn "poepende Kersvader" (furzender Nikolaus) wat dieselfde betekenis gehad het as lummel. In die Sauerland (ʼn deel van Westfale) verwys die woord Pumper na ʼn poep (Flatulenz). Blykbaar het hierdie brood dieselfde effek op mense se spysvertering as boontjies. Die nickel in pumpernickel, sê hulle verwys na Nikolaus (die Duitse Kersvader), maar nickel in streekstaal verwys ook na ʼn eksentrieke persoon.

Volgens die kultuurhistorikus, Hansferdinand Döbler het Pompernickel in die 17de eeu ook na die duiwel verwys; die woord duik dikwels in die registers van die hekseverhore op.

Natuurlik is daar ook ietsie oor Napoleon by in die verklarings waar die woord pumpernickel vandaan kom. Die Franse het gereeld die spul Duitsers aan die ander kant van die Rhein verower en so word daar beweer dat die naam van die brood aan Napoleon te danke is. Hy sou glo gesê het dat die noodvoorrade van die omsingelde Westfale ‘bon pour Nickel' is - skaars goed genoeg dat sy perd Nickel dit kon vreet!

Nog ʼn uitleg van die benaming van die brood dateer terug na die 15de eeu toe daar ʼn groot hongersnood in Osnabruck (ook in Westfale) geheers het. Hulle het op koste van die stadsraad brood gebak vir almal en op Latyn is daarna verwys as bonum paniculum. In die volksmond het dit toe sommer pumpernickel geword. Daar staan nog vandag ʼn toring in Osnabruck, die Pernickelturm, waar die bakoond van die stad destyds in was.

Ek laat my kop skoon deemoedig en poempelig in skaamte sak ... hehehe!

Pouveer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top