Bokomo-brekfisbrief; 10/08/08: Die pynappelstorie

  • 0

ʼn Paar dekades gelede het die stamme in Papua Nieu-Guinee nog met mekaar oorlog gemaak en kannibalisme beoefen. Sendeling Jan was ʼn Duitse Amerikaner wat gevoel het die Here roep hom om daar te gaan sendingwerk doen. Hy en sy vrou, wat in ʼn mediese rigting bekwaam was, het op ʼn afgeleë plekkie tussen een van die stamme gaan woon. Hulle het hulle huisie se kant as ʼn kliniek ingerig. So het hulle begin om onder die mense te werk. Hulle te leer skryf en lees, van die Bybel begin leer en siekes gesond gemaak, wonde versorg, kindersiektes behandel, ensomeer.

Baie gou het sendeling Jan gefrustreerd geraak. Hierdie mense was kompulsiewe diewe. Wanneer hy met hulle gepraat het by die voordeur en sy vrou die siekes behandel by die kantdeur, het hulle sy kombuisware by die agterdeur uitgedra. Dikwels as hulle dan die volgende dag weer na die huis toe kom, het hulle een van sy vurke deur hul neus of sommer een van sy hemde aan. Hy het geweet dit was syne, want hulle het nie hemde gedra en nie met messe en vurke geëet nie. Hulle het kaalvoet deur die lewe gegaan, maar as sendeling Jan weer sien, het een van hulle sy vrou se plakkies aan.

Hy het hulle probeer leer dat dit verkeerd is om ander mense se goed te vat, maar daar was geen salf aan hulle te smeer nie.

Wat vir hom die grootste versoeking was tot sonde, is dat hulle sy pynappels so gesteel het. Hy het pynappelbome geplant en lankmoedig gewag vir die vrugte om ryp te word. Sodra hy egter een wou gaan pluk, was dit weg. Dit het sy humeur laat opvlam en hulle het dit agtergekom. Hy het in baie duidelike terme vir die stamhoof verduidelik dat dit sy pynappels is en hy gaan hulle straf as hulle sy pynappels steel.

Intussen sukkel hy baie hard om hulle tot bekering te lei. Na baie jare is daar nog net een jongman wat Jesus wil volg. Sendeling Jan het gereeld by die Here gesmeek om hulp. Sy pynappels was vir hom ʼn groot verlies. Hy het drade gespan, ʼn hond gekry, maar net sodra die pynappels ryp was, het hulle verdwyn. Toe hy weer so by die Here kla, sê die Here vir hom: “Alles in die hemel en op die aarde behoort aan My. Daardie pynappels behoort aan My. Gee jou regte prys en volg My voorbeeld en jy sal vrede kry.”

Sendeling Jan was opreg aangespreek en het bely. Hy roep toe die mense bymekaar en sê vir hulle hy is jammer dat hy so kwaad geword het en dat hulle van die pynappels kan neem wanneer hulle wil. Hulle was natuurlik baie bly en sê toe vir hom: “Sendeling Jan, ons is bly vir jou, ons sien jy het nou ʼn Christen geword!”

Nodeloos om te sê, na sewe jaar se gesukkel het hy vrede in sy hart gekry.

Vrede vir julle,

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top