Bokomo-brekfisbrief; 10/07/09: Resessie? Ja, maar wie s'n eintlik?

  • 0

So ʼn tydjie gelede het ons hier baie gepraat oor die resessie - met ernstige en minder ernstige rate en wenke. Ek onthou onder meer dat Oester gesê het ons moenie die groot kettingwinkels ondersteun nie, maar liewer by die klein winkeltjies koop. Ek wou toe al gevra het: wat jy waar kry? Nie hier aan die Rand nie, dis verseker. Die enkeles wat deur ʼn verloopte Griek of Portugees aan die gang gehou word, is gewoonlik tussen ʼn slaghuis en ʼn drankwinkel waar swart mense ná die noodsaaklike aankope, ten duurste ʼn bruin brood, bietjie koffie, ʼn pakkie suiker en so aan koop.

Nou't ek juis vandag, nadat die bank my twee uur besig gehou het met ʼn transaksie wat hoogstens ʼn kwartier moes geneem het, haastig (omdat ek laat was) brandstof by ʼn vulstasie ingetap en onthou dat ek nie brood het nie. Wat betaal ek toe by die Sterwinkel? ʼn Reine R9,45 vir ʼn bruinbrood. R4,00 meer as wat die Vriendelike Kruidenier (ook maar kettingwinkel) my sou vra. Nou-ja, soveel vir spaar deur bruinbrood te koop ...

Maar daar's ook ʼn keersy aan die prentjie.

My tuinman (een keer per week, ʼn uur lank en hy word deur die bestuur van die veiligheidsoord betaal - by my heffing ingesluit) het al hoevele kere gevra ek moet vir hom ‘seblief ʼn brood koop/saambring en dan ʼn paar rand na my uitgehou, wat ek nie die hart het om te aanvaar nie.

ʼn Paar dae gelede kom hy vra of ek dalk winkel toe gaan. Ek was nie van plan nie, maar ek dog dis broodnood en sê maar ‘ja'. Kom die groot vraag: Sal ek dan asseblief vir hom ʼn pak Pampers koop?

Ek dog ek hoor verkeerd. "Pampers?" vra ek deur die wind.

"Ja, mevrou weet mos ... ek het ʼn dogtertjie ... sy's agtien maande," antwoord hy.

Ek ry en gaan koop ("net ʼn klein pakkie, mevrou") die Pampers. Kry amper stuipe toe ek sien wat dit kos - R75. Nie oor die geld nie ... of ja, oor die geld .... Oor dit bloedgeld is ... R75 vir papierdoeke vir ʼn man wat nie geld het vir brood nie! Hoe kry mens die kloutjie by die oor? Ek maak planne in my kop, vuur en vlam om ʼn babawinkel te gaan soek en vir sy kind ʼn dosyn of twee flennie- of handdoekgoeddoeke te koop.

Ek gee die Pampers vir hom, maar ek moet ook my sedeprekie probeer inkry - verdomp, dis dan resessie!

"Kenneth," vra ek "weet jy wat kos die goed?" (Simpel vraag.) "Hoe kan jy dit bekostig? Hoekom koop julle nie lapdoeke nie?"

"Ons het die lapdoeke, mevrou," antwoord hy met die pak Pampers styf teen sy bors vasgedruk. "Maar dis ... dis net vir partykeer ..."

Ek sluk my aanbod van lapdoeke en die res van my resessiepraatjie in, want in my verbeelding sien ek die gesinnetjie Sondagmiddag gaan kuier ... by vriende ... en mens wil darem nie afsteek nie ...

(Ja, natuurlik het ek betaal. Hoe dan anders? Na alles, wie se resessie is dit rêrig?)

Groete,

Irene Cornelissen

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top