Bokomo-brekfisbrief; 10/05/2010: Ma se kos

  • 0

Nadine het my al laasweek laat verlang na my ma se kos. Dit bring altyd kwylbek-onthou terug as mense daarvan praat en ek is seker algar het ‘n heimwee, want ma se kos gaan hand aan hand met tye van min verantwoordelikheid en baie speel, fantasiewêrelde en sommer net kindwees. Sondae veral was groot in ons familie. Dit was ‘n familietradisie om saam te eet en jy kon jou horlosie stel op Ouma se “kom eeeeeeet!” elke Sondag, 12-uur. Dan was daar ‘n goudbruin skaapboud, aartappels wat in die skaapvet gebraai is, rys met ‘n bruin sous, blomkool met ‘n kaassous, ‘n boontjie-aartappel-tamatie mengsel, pampoenkoekies wat proe na pannekoek, tamatie-en-uie-slaai, toegegooi onder asyn, soos ma daarvan gehou het … en vir poeding (daarvoor het mens altyd ‘n ou spasietjie gehad), Roly poly … en dan roly poly ons vir die res van die week … tot die volgende Sondag. G’n wonder ons sukkel almal vandag met cholesterol en skale wat nie wil saamwerk nie!

Mans kan veral, soms tot hul vroue se groot irritasie, so veraf glaserige uitdrukking kry as hulle praat van hul ma se kos. Dit is dan veral as vroulief iets opgedis het wat hom (tot haar groot verontwaardiging) laat terugverlang na sy mammie. Altwee my skoonma’s, vir wie ek steeds albei baie lief is 🙂 se kos kom natuurlik nie naaaaby myne nie! (ek weet gelukkig hulle lees nie hier nie). Ek staan dus soms verstom as ek hulle kos proe … dit gaan beslis hier oor meer as net die smaak. Dis ma se onvoorwaardelike liefde, die band-aid op die einas, die warm drukkie na skoolmaatverwerpings, die ma-se-grootseun ondersteuning. Ma se kos beteken hakuna matata …   

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top